Twee veediewe is Donderdagaand in die Kwabombo-omgewing in KwaZulu-Natal met gesteelde vee betrap gedurende ’n gesamentlike operasie deur speurders en lede van die polisie se veediefstaleenheid.
Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het gesê agt gesteelde bokke is by hulle gevind.

Twee van die nege bokke wat na bewering Woensdagaand in KwaZulu-Natal gesteel is. Twee veediewe is in hegtenis geneem. Foto: SAPD
“Vier van die bokke is positief deur die regmatige eienaar geïdentifiseer en die ander vier is deur die polisie ingeneem. Nege bokke is na bewering Woensdagaand in Ngudwini in Umzimkhulu gesteel,” het Mbele gesê.
Volgens Mbele het die span, wat bestaan ??het uit speurders van Umzimkhulu en lede van die Himeville-veediefstaleenheid, ’n operasie in die omgewing van stapel gestuur om veediefstal hok te slaan.
“Die twee verdagtes, van onderskeidelik 26 en 30 jaar oud, sal in aanhouding bly en Maandag in die landdroshof in Umzimkhulu verskyn op aanklagte van veediefstal en die besit van gesteelde eiendom,” het Mbele gesê.