Twee mans van Kaapstad is in aanhouding nadat die polisie op dagga van sowat R1 miljoen op die N1 naby Laingsburg beslag gelê het.
Die polisie het Maandag roetine-inspeksies op die N1 gedoen en ’n Toyota Quantum-minibus wat van Qumbu in die Oos-Kaap na Kaapstad onderweg was, voorgekeer en deursoek.
Hulle het op 54 sakke dagga in die bus en op ’n sleepwaentjie afgekom. Die dagga weeg 536 kg en het ’n waarde van sowat R1 miljoen.
Xolani Mbuku (33) en Dinwayo Ncedeli (30) is in hegtenis geneem en het Dinsdag op aanklagte van die handel in dagga in die landdroshof in Laingsburg verskyn. Die saak is tot 18 November vir ’n borgtogaansoek uitgestel en die mans bly tot dan in aanhouding.
Volgens die polisie was die dagga vermoedelik vir Kaapstad bestem. Speurders van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid ondersoek die voorval.

Die sakke dagga wat Maandag op die N1 by Laingsburg gevind is. Foto: Verskaf
In ’n onverwante voorval Dinsdag het die polisie op ’n vuurwapen by ’n huis in Beaufort-Wes beslag gelê.
Die polisie het ’n wenk oor ’n ongelisensieerde vuurwapen van ’n lid van die publiek ontvang.
Lede van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid en die Klein-Karoo K9-eenheid asook polisiebeamptes van Beaufort-Wes, is na die huis om dit te deursoek. Hulle het afgekom op ’n 9 mm-Norinco-pistool en patrone wat in ’n slaapkamer versteek is. Daar is beslag gelê op die vuurwapen en ’n 24-jarige man is in hegtenis geneem. Hy sal Donderdag in die landdroshof in Beaufort-Wes verskyn.
Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse weggestuur word.