Twee mans is Woensdagmiddag dood en nog een is ernstig gewond in ’n skietvoorval in Ormonde in die suide van Johannesburg.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici omstreeks 13:30 op die toneel van die skietery in Xavierstraat aangekom. Twee mans met veelvuldige skietwonde is in ’n motor dood aangetref. Die motor het in die middel van die pad gestaan.
“Die twee mans het voor in die motor gesit. Hulle is deur die paramedici dood verklaar. ’n Derde man, agter in die motor, is in ’n kritieke toestand na die hospitaal geneem.”
Meiring sê hul silwer Toyota was vol koeëlgate.
Die polisie kon nie onmiddellik meer inligting oor die voorval verskaf nie.

Polisie en metropolisiebeamptes op die toneel van die skietery, waarin twee mans Woensdagmiddag in die suide van Johannesburg doodgeskiet is. Foto: Melinda Stuurman

Die silwer Toyota is vol koeëlgate. Foto: ER24