’n Stryery oor ’n vrou het oënskynlik gelei tot die dood van twee mans en die inhegtenisneming van vier mense in St. Francisbaai.
Die dodelike stryery het volgens die polisie se inligting vroeg Saterdagoggend in die informele nedersetting Sea Vista in dié Oos-Kaapse kusdorp plaasgevind.
Na bewering het Thembalethu Mgebisa (40) en Anga Tyali (32) Saterdagoggend omstreeks 04:45 begin stry oor hul gesamentlike vriendin. Die stryery het in ’n geveg ontaard, waarna Mgebisa blykbaar vir Tyali verskeie kere in die bolyf gesteek het. Tyali is op die toneel dood verklaar.
Volgens sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het ’n wraakaanval deur Tyali se vriende gevolg. Mgebisa is sowat ’n uur later in ’n nabygeleë informele nedersetting met verskeie wapens aangeval en later op die toneel dood verklaar.
Nkohli sê die polisie het kort hierna vier mans tussen die ouderdom van 23 en 42 vir die moord op Mgebisa vasgetrek. Verdere inhegtenisnemings kan volg.
Die groep beskuldigdes sou na verwagting Maandag in die landdroshof in Humansdorp verskyn, maar die saak het teen later die middag nog nie voorgekom nie.