Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 dossiere ná rowers in kerk doodgeskiet is
Pieter van der Westhuizen, broer van die rugbyheld Joost, kort nadat hy een van die aanvallers in die kerk geskiet het. Foto: Verskaf

Die polisie werk in dié stadium aan twee dossiere in verband met die voorval waarin Pieter van der Westhuizen in Julie twee rowers in ’n kerk doodgeskiet het.

Ulrich Roux, Van der Westhuizen se prokureur, sê ’n geregtelike ondersoekdossier is aangelê ná die dood van die twee aanvallers. Dit is gewoonlik om te bepaal of iemand strafregtelik vir hul dood vervolg moet word.

Terselfdertyd word sake van poging tot moord en gewapende roof ondersoek, met Van der Westhuizen as die klaer “omdat mense hom probeer doodskiet het” en gemeentelede beroof het.

Van der Westhuizen het reeds ’n verklaring oor die voorval aan die polisie gegee.

Hoewel die polisie nie onmiddellik kon terugvoering gee oor hoe die twee ondersoeke vorder nie, blyk dit dat daar nog geen besluit oor enige vervolging geneem is nie.

Daar is wel vroeër gesê dat die twee oorlede aanvallers se vingerafdrukke na die departement van binnelandse sake gestuur is in ’n poging om hulle te identifiseer.

Netwerk 24 het verneem dat die aanvallers van Zimbabwe afkomstig is. Dit is onbekend of hulle wettig in die land was.

Netwerk 24 het verneem dat hulle van Zimbabwe afkomstig is. Dit is onbekend of hulle wettig in die land was.

Intussen sê Kobus Erasmus, pastoor van die Querencia Bedieninge in Wierdapark, Centurion, die meeste gemeentelede, ook Van der Westhuizen, het deur die trauma van die voorval gewerk.

“Pieter se fokus is nou op sy komende troue einde Oktober,” sê Erasmus. Hy is Antoinette Watson, Van der Westhuizen se verloofde, se stiefpa.

Die paartjie het die dag voor die rooftog verloof geraak. Die volgende dag, Sondag 26 Julie, het hulle die erediens bygewoon.

Twee gewapende mans het die kerk ingestorm, terwyl ’n derde man by die deur wag gehou het.

Lidmate het destyds vertel dat die een rower reguit na Erasmus op die kansel is. Hy het sy vuurwapen teen die pastoor, wat met die hulp van krukke loop, se kop gedruk en hom ook herhaaldelik daarmee geslaan.

Die ander rower het gemeentelede se juwele afgehaal en selfone uit hul sakke gegrawe.

Van der Westhuizen, ’n oudpolisieman wat nou sy eie veiligheidsmaatskappy het, het glo gereageer toe hy sien Erasmus word aangeval en ’n skietery het gevolg.

Die twee aanvallers is binne-in die kerk dood, terwyl die derde een gevlug het.

Die gemeentelede het later vertel hoe daar ’n “gedruis van gebed” tussen die skote deur die kerk getrek het.

Niemand van die gemeente is beseer nie. Hulle het later vertel hoe daar ’n “gedruis van gebed” tussen die skote deur die kerk getrek het, en mense wonderbaarlik nie getref is nie.

Erasmus het die week, bykans twee maande ná die voorval, gesê hoewel daar soms nog effens trauma-gevolge opduik, is die gemeentelede oor die algemeen nou rustiger.

“Ek dink die beginsel waaruit ons dit benader het, het die voorval en gevolge verander. Ons het gefokus op die getuienis dat die Here ons beskerm het, en die wonder wat gebeur het. Dit is groter as die trauma, want ons lewe almal,” sê hy.

Daar was wel berading gebied vir die kerkgroep, en ook vir van die kinders wat tydens die aanval in ’n ander vertrek was, maar alles kon hoor.

Ook Van der Westhuizen, wat letterlik deel van die spervuur was, lyk of hy die ergste skok verwerk het.
Pieter van der Westhuizen en sy verloofde, Antoinette Watson. Foto: Facebook

“Ons (die gemeente) het daardie Woensdag ná die voorval weer bymekaargekom, gepraat en die kerk opgeruim nadat professionele misdaadtoneel-opruimers binne skoongemaak het.

“Ons het stoele opgetel en goed reggeskuif, sulke dinge. Ek dink dit was terapeuties.”

Hy noem dat mense vra hoekom val die gemeente nie “uitmekaar” nie.

Volgens Erasmus het die teendeel gebeur: Daar het ’n geestelike verdieping gevolg omdat gemeentelede oor God se grootheid en ingryping kan getuig.

Ook Van der Westhuizen, wat letterlik deel van die spervuur was, lyk of hy die ergste skok verwerk het.

“Ek dink sy opleiding as polisieman het hom gehelp om die ding binne-in hom vinniger uit te sorteer. Pieter is ’n mooi kind van die Here en die Here was vir hom goed,” sê Erasmus.

Hy sê dat die gemeente bankvas agter Van der Westhuizen staan met die polisieondersoek.

“Ons glo as die Here ons deur daardie voorval gedra het, sal Hy ons ook dra deur dit wat volg. Ons glo Hy hou die ondersoek en vir Pieter ook in Sy hand.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.