Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 gekaap kort voor bekendmaking van syfers

’n Veiligheidswag is gewond en twee vroue is gekaap in ’n transitorooftog minder as 24 uur voordat Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag die nuutste statistieke oor transitorooftogte van die afgelope ses maande bekend gemaak het.

Sunette Strydom (34) is een van die twee vroue wat Maandag tussen Vryburg, Noordwes, en Hartswater in die Noord-Kaap uit hul onderskeie voertuie gedwing is. Die transitorowers het vuurwapens op albei gerig.

Strydom se man, André, sê een van die rowers het haar in die pad voorgekeer. Veiligheidsbeamptes van die geldwa en die rowers het op mekaar geskiet.

“Die rowers het die twee voertuie waarmee hulle daar aangekom het, net daar gelos. Toe vat hulle my vrou se Volkswagen en die ander vrou se Audi en jaag weg,” sê André. Die naam van die dorp waar hy en Sunette woon, word op sy versoek weerhou.

Die rowers het die twee voertuie waarmee hulle daar aangekom het, net daar gelos. Toe vat hulle my vrou se Volkswagen en die ander vrou se Audi en jaag weg.

Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê geen geld is uit die geldwa gesteel nie.

Volgens hom was daar polisiebeamptes in die omgewing en hulle is vinnig na die toneel.

Buiten die veiligheidswag wat raakgeskiet is, is niemand beseer nie.

Intussen het Cele Dinsdag op ’n mediakonferensie in Hatfield, Pretoria, toegegee dat die polisie nog nie die stryd teen transitorooftogte kon wen nie, maar hy het bygevoeg dat dié misdaad wel aan die afneem is.

Dít blyk uit die nuutste statistieke oor transitorooftogte wat hy daar bekend gemaak het.

Vanaf 1 April tot 4 November is 118 transito-rooftogte aangemeld, vergeleke met 184 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dit is ’n afname van 36%.

Ek is tevrede met die vordering wat gemaak is. Suid-Afrikaners het ’n groot vrees vir dié misdaad en ons bly daartoe verbind om dit te beveg.

Die minister het op 4 Junie planne bekend gemaak oor ’n nuwe aanslag deur die polisie nadat ’n vlaag van transitorooftogte in April en Mei in Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga plaasgevind het.

Volgens hom is daar sedertdien 230 beskuldigdes in verband met die rooftogte in hegtenis geneem.

Cele kon nie sê hoeveel van die rowers lede van die polisie of metropolisie was nie.

“Ek is tevrede met die vordering wat gemaak is. Suid-Afrikaners het ’n groot vrees vir dié misdaad en ons bly daartoe verbind om dit te beveg.”

Volgens hom kan die afname in transitorooftogte toegeskryf word aan die hoër sigbaarheid van die polisie in die provinsies waar die rooftogte die meeste voorkom, groter samewerking met die Valke en meer hulpbronne wat beskikbaar gestel is.

Talle inhegtenisnemings is gedoen nog voordat die rooftogte uitgevoer is, aldus die minister.

Luidens die polisie se syfers oor die transitorooftogte is daar vanaf 1 April tot 4 November:

  • 237 mense in hegtenis geneem;
  • 92 voertuie teruggekry;
  • op 78 vuurwapens beslag gelê; en
  • ’n “beduidende” hoeveelheid geld teruggekry.
Meer oor:  Bheki Cele  |  Transitorooftog  |  Kaping  |  Veiligheidswag  |  Transitorooftogte  |  Syfers  |  Statistieke  |  Gewond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.