Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 hengelaars op rotse by PE met mes getakel, erg gesteek

Waarskuwing: Hierdie berig bevat ‘n grafiese foto wat sommige lesers kan ontstel.

Al is ’n hengelaar ses keer met sy eie vismes op die rotse langs die see in Port Elizabeth gesteek, sal hy vir nog jare daarheen terugkeer om ’n lyntjie nat te maak.

So sê Sidney (Tomi) Gerber (76) wat Maandagoggend saam met ’n vriend, Johann Fourie (66), by Blue Hole naby Noordhoek langs Mariene-rylaan deur twee mans aangeval is.

Die aanvallers het Gerber ses keer met sy vismes gesteek, waarvan vyf van die meswonde steke geverg het, terwyl Fourie twee keer gesteek is, maar in die hospitaal opgeneem is uit vrees dat een van sy longe moontlik beseer is.

“Ek is nog effens styf en het seer spiere – dit is maar rof om so op die klippe te rol en stoei – maar dit kon baie erger gewees het. Gelukkig was die Here se hand met ons,” het Gerber Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 06:00 gebeur.

Ek gaan nog vir baie jare daar gaan hengel, ek sal net nog ’n maatjie – my pistool – saamvat.

Volgens Gerber het hy en Fourie oudergewoonte die oggend saam gehengel. Nadat hy reeds twee visse gevang het, het twee onbekende mans hulle genader en gevra of hulle oorbrugkabels vir ’n pap motorbattery het, aangesien hulle ’n swanger vrou in hul motor het wat by ’n hospitaal moet uitkom.

Gerber het gesê hulle het nie sulke kabels nie, en die mans het weggestap. “Maar toe kom hulle terug en ek het sommer geweet hier kom moeilikheid.”

Fourie is eerste gegryp en aangeval, waarna Gerber met die mes gesteek is toe hy probeer help.

Gerber sê hy en die een man het oor die rotse tot in die seewater gestoei voordat die man homself losgewikkel en saam met sy makker laat spaander het.

“Die oomblik toe ons terugbaklei, het daai manne geskrik en die pad gevat.”

Die twee aanvallers het twee bande elk van sowel Gerber as Fourie se voertuig stukkend gesteek terwyl hulle gevlug het. Hulle het ook daarin geslaag om die twee visse, hengeltoerusting en Fourie se selfoon te steel.

Gerber het hierna die polisie en ambulans op sy selfoon gekontak wat nog in sy motor toegesluit was.

Volgens hom hengel hy al “jare en jare” in die gebied, maar dit was die eerste keer dat hy ’n slagoffer van misdaad langs die viswaters is.

“Ek voel al weer gereed om terug te gaan. Ek gaan nog vir baie jare daar gaan hengel, ek sal net nog ’n maatjie – my pistool – saamvat,” sê Gerber.

Ondanks gerugte dat die polisie Dinsdag ’n verdagte in verband met die voorval vasgetrek het, kon Naidu dit nie bevestig nie. Die polisie se ondersoek duur voort, sê sy.

Sy het ook hengelaars en drawwers gewaarsku om oplettend oor hul omgewing te wees en liefs stiller gebiede vroegoggend en saans te vermy.

“Met die strande wat kragtens die vlak 3-inperkingsregulasies vir die publiek gesluit is, is gebiede langs die kus baie stil en geïsoleerd, wat dus mense hier maklike teikens vir misdadigers maak.”

Die meswonde aan Sidney Gerber (links) en Johann Fourie (regs) se lywe nadat hulle Maandagoggend deur twee mans aangeval is terwyl hulle naby Noordhoek in Port Elizabeth gehengel het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Messteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.