Twee verdagtes is die naweek in Muizenberg in Kaapstad in polisieklopjagte vir die besit en handel in dwelms aangekeer.
Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê lede van die Muizenberg-misdaadvoorkomingseenheid het Sondag inligting uit die gemeenskap oor moontlike dwelmhandel in Harmonyweg in Vrygrond opgevolg.
Die polisie het die huis omstreeks 12:00 deursoek en afgekom op 240 Mandrax-tablette wat in ’n Angolese vlag toegedraai was.
Die verdagte, ’n 18-jarige man, is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel en het reeds Maandag vlugtig in die landdroshof in Muizenberg verskyn.”

Die dwelms waarop geslag gelê is. Foto: Verskaf
Van Wyk sê dieselfde lede het later die middag verdere inligting oor dwelmhandel in Mountainweg, Overcome Heights, opgevolg en omstreeks 16:30 toegeslaan op ’n plakkershut, waar 68 dagga-pakkies en twee pakkies tik, asook ’n nagemaakte vuurwapen ontdek is.
“’n 25-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van die handel in dwelms en die besit van ’n nagemaakte vuurwapen,” sê Van Wyk.

Die dagga waarop beslag gelê is Foto: Verskaf