Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 mans aangeval op stortingsterrein in Bfn

Twee mans is ernstig beseer toe hulle Dinsdagoggend met messe en bakstene op die noordelike stortingsterrein in Bloemfontein aangeval is.

Die polisie praat met veiligheidsbeamptes by die stortingsterrein naby Noordstad in Bloemfontein nadat twee mans Dinsdag hier met messe aangeval is. Foto: Verskaf

Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die metro, sê die mans is die oggend in ’n reeks bendeverwante voorvalle as deel van ’n “grondgebied-oorlog” aangeval.

Brett Sharp van die Bainsvlei-GPF (gemeenskapspolisiëringsforum) het gesien hoe een van die mans aangeval word. “Dis moeilik om daaroor te praat. Jy kan niks doen om die ou te help nie.”

Hy het met sy bakkie by die stortingsterrein naby Noordstad ingery toe ’n trok met werkers agterop langs hom stilhou om vullis te stort.

Die mense wat deur die vullis gaan het op die werkers toegesak en een man van die trok afgeruk.

Sharp sê minstens 30 mense, waaronder vroue, het op die man toegesak.

Volgens hom is die aanvallers lede van die berugte Born to Kill- (BTK) bende met die kenmerkende traandruppel-tatoeëermerk op die wang.

Hulle het die man beveel om sy klere uit te trek.

“Dit was om te kyk of hy tatoeëermerke het, maar hy het geweier. Toe pak omtrent vier hom en gooi hom met bakstene.”

Die man het glo na die trok gehardloop, maar die bestuurder het die deure gesluit en weggejaag. Die res van die groep het toe op hom toegesak en hom herhaaldelik van voor en agter met messe gesteek.

“Hy het ineengesak. Daar is geen manier dat daai man nog kan leef nie. (Die man het ten tyde van publikasie wel geleef.) Ek het nog nooit so iets gesien nie.”

’n Geskokte Sharp het toe nóg ’n man 20 m van die ingang van die stortingsterrein gevind waar hy inmekaar gesak het. Ook hy het ’n klomp meswonde opgedoen.

Die hele vullishoop is nou vrot van B2K-bendelede. Bendes baklei teen mekaar en onskuldiges word daarby ingesleep.

Joseph Soejetsi, Sharp se tuinier, sê die slagoffers was moontlik lede van die Roma-bende, B2K se teenstander.

Benewens tatoeëermerk op die bolyf, kan Roma-bendelede glo ook uitgeken word aan die swart K-Way-pette wat hulle dra.

“BTK is uit die townships geskop deur die Rooimiere.

“Die hele vullishoop is nou vrot van B2K-bendelede. Bendes baklei teen mekaar en onskuldiges word daarby ingesleep,” sê Sharp.

“Die polisie sal iets moet doen en al die bendes verwyder.”

In ’n voorval vroeër die jaar is iemand met ’n tuinvurk by dieselfde stortingsterrein gesteek, sê hy.

Roofbendes het ook verlede jaar verskeie mense by die suidelike stortingsterrein aangeval.

Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar twee slagoffers was. “Aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer is aanhangig gemaak. Die slagoffers was nie in ’n toestand om besonderhede te gee nie.”

Hy sê die twee mans is na die Pelonomi-hospitaal geneem.

Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Qondile Khedama  |  Bloemfontein  |  Bende  |  Stortingsterrein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.