Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 mans vas ná taxi motorfietsryer tref, hom aanrand

Twee mans is in hegtenis geneem vir ernstige aanranding en roekelose en nalatige bestuur in Milnerton, Kaapstad, nadat hulle ’n man op ’n motorfiets raakgery en aangerand het.

Volgens kaptein FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het Milnerton se polisie Vrydag twee mans van 23 en 28 jaar om 07:00 in hegtenis geneem.

“Die verdagtes is in Dunoon in hegtenis geneem in verband met ’n voorval met ’n taxi en ’n motorfiets wat op Dinsdag 12 Desember in Koebergweg in Milnerton plaasgevind het.”

Scott Clarke, op sy motorfiets, is Dinsdag omstreeks 17:20 deur ’n taxi getref. Boonop is hy deur sommige van die taxipassasiers aangerand.

“Ek was baie verlig toe die polisie laat weet het dat hulle vanoggend die verdagtes vasgetrek het,” sê Clarke.

“Ons weet nog nie of dit wél hulle is nie omdat hulle niks erken het nie. Hulle ontken dat hulle by die voorval betrokke was. Ek het alle leidrade en foto’s vir die polisie gegee, so ek vertrou dat hulle die saak onder beheer het en ek is bly hulle het die mense opgespoor.”

Clarke het vroeër die week vertel van die voorval wat op Koebergweg in Milnerton plaasgevind het.

“Die taxi het my van agter getref. Ek het so 40 km/h gery, maar die taxi het seker so 90 km/h gery.”

Clarke is van sy motorfiets afgegooi en die motorfiets het onder die taxi beland. Die taxi het die motorfiets ongeveer 150 m gesleep voordat hulle gestop het.

Scott Clarke (regs).Foto: Facebook

Toe Clarke na die taxi gaan om sy fiets los te maak, het twee van die passasiers hom begin aanrand.

“Die een man het my geskop dat ek op die grond beland het. Hulle het my toe met ’n mes op my rug geslaan. Die ander man het ’n kleiner mes gehad wat hy in my rigting begin swaai het.”

Clarke sê alles het baie vinnig gebeur en binne 20 sekondes het die mans weer in die taxi gespring en weggejaag omdat daar al hoe meer mense begin saamdrom het.

Volgens van Wyk word omstandighede rakende die voorval nog ondersoek.

Die verdagtes sal Maandag 18 Desember in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Meer oor:  Milnerton  |  Kaapstad  |  Aangerand  |  Taxi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.