Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 perde vermoedelik vir resies in Lesotho gesteel
Landi Groenewald as kind by haar ryperd, Ginger, wat die naweek gesteel is. Foto: Verskaf

’n Kaapse fotograaf se twee geliefde perde, waaronder ’n ou ryperd van 26 jaar oud wat op genadebrood lewe, is moontlik na Lesotho gejaag om daar in genadelose perderenne gebruik te word.

Landi Groenewald het op Wepener grootgeword en kuier op die oomblik by haar ouers in die Vrystaat. Haar perde is Vrydagnag of Saterdagoggend vroeg gesteel.

Sy sê ’n werker wat die perde versorg, het Saterdagoggend agtergekom dat hulle weg is.

“Die werker het hul spore tot by Wepener gevolg en ons glo hulle is in die rigting van Lesotho gejaag,” sê sy.

Veewagters in die gebied sê die perde het in die rigting van Lesotho gestap.

Die grens is net 5 km van Wepener en daar is baie plekke waar mense onwettig oor die grens kan beweeg, sê sy.

Groenewald sê die een perd, Ginger, is ’n regte plaasperd.

“Dit was my ryperd vandat ek nege jaar oud was. Hy is nou stokoud en vol pyne,” sê sy.

Sy het Ginger by haar oom gekry toe hy al ’n volwasse perd was en hy kry spesiale voer om hom te help met sy gewrigpyne, sê sy.

Landi Groenewald by Ginger wat nou 26 jaar oud is. Foto: Verskaf
Landi Groenewald by haar Arabierperd wat saam met haar ou ryperd die naweek gesteel is. Foto: Verskaf

Die ander perd is ’n geregistreerde Arabierperd wat baie mak is maar nie gery kan word nie.

Groenewald sê hulle het die heel naweek na die perde gesoek en selfs hommeltuie gebruik om hulle te probeer opspoor.

Die polisie het iemand ondervra maar weer laat gaan.

Sy sê daar is mense wat op die oomblik op die plaas draad span en een van dié mans se vriend word van die diefstal verdink.

“Sy spore is gekry in die kamp waar die perde laas was,” sê sy.

Groenewald sê sy glo die perde is na Lesotho gejaag waar perderesies ’n groot sport is.

“Dit is baie wreed hoe hulle met die perde werk,” sê sy.

“Baie van die mense wat aan die sport deelneem, het geen gevoel vir diere nie en sal die ou perd sommer in die veld los as hulle agterkom hy kan nie meer gery word nie,” sê sy.

Die perde word dié tyd van die jaar gestuur omdat daar in Julie ’n groot resies ter ere van die Lesotho-koning is, sê Groenewald.

Dit is ook baie koud in Lesotho en sonder sy spesiale voer sal Ginger baie vinnig agteruitgaan.

Groenewald is bereid om ’n beloning te betaal aan enigiemand wat kan help om die twee perde op te spoor. ’n Private speurder in Lesotho, Daniel Polaki wat sy aangestel het, kan hom by +26 662 002 005 gebel word of hulle kan die veediefstalnommer in Suid-Afrika by 082 301 6123 skakel.

Groenewald se soektog na haar perde is reeds duisende kere op Facebook gedeel en wyd op ander sosiale media versprei.

Meer oor:  Lesotho  |  Gesteel  |  Perde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.