Twee Wes-Kaapse polisielede is koelbloedig doodgeskiet toe hulle Sondag in die vroeë oggendure in hul polisievoertuig in Bloekombos, Kraaifontein, met roetinepatrolliewerk besig was.
Die polisielede, ’n konstabel van 28 en ’n sersant van 46 jaar oud, is omstreeks 01:25 albei in die kop geskiet. Dit blyk dat hulle vermoedelik in ’n lokval gelei is. Albei is op die toneel dood en hul polisievuurwapens is gesteel. Hul identiteit is nog nie bekend gemaak nie.
Volgens Popcru is ’n selfoon ook gesteel en nege koeëldoppies is op die toneel gekry.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, genl.maj. Thembisile Patekile, het dadelik verskeie polisie-eenhede, waaronder die Valke, se hulp ingeroep om die moordenaars se spoor te volg.
Patekile het sy meegevoel met die beamptes se families uitgespreek en gesê hy sal help om hulle in hierdie moeilike tyd te ondersteun.
Popcru het in ’n verklaring sy kommer oor die herhaaldelike moorde op polisielede landwyd uitgespreek.
Dié jongste moorde in Kaapstad volg op die moorde van twee polisielede in Pietermaritzburg verlede naweek en nog ’n polisielid in KwaZulu-Natal wat hierdie naweek begrawe is nadat hy in Chatsworth doodgeskiet is toe hy ’n klag van gesinsgeweld gaan ondersoek het.
Popcru het gesê van die redes vir die aanvalle op polisiebeamptes is dat daar ’n tekort aan beamptes is en dat hulle in klein getalle in die gemeenskap moet diens doen. Dit maak van hulle makliker teikens.
Volgens Popcru is die gewelddadige aanvalle op polisielede deel van die wetteloosheid in die gemeenskappe, wat ook daarop gemik is om vrees by mense in te boesem.
As meer polisielede nie beskikbaar gestel word om die werk op voetsoolvlak te doen nie, sal dié aanvalle net voortduur.
Popcru het sy pleidooi herhaal dat die moord op polisielede as hoogverraad beskou moet word.