Die polisie en lede van die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie (Saftu) het Woensdag slaags geraak toe hulle die strate van Kaapstad ingevaar het uit protes teen die ekonomiese uitdagings in die land.
In die Kaapse middestad het die polisie ’n stokkie gesteek voor lede se planne om ’n optog en motoroptog deur die middestad te hou om die kollig op werkloosheid en werkverliese te plaas.

Saftu-leiers bots met polisie oor hul beplande motorkade na die parlement. Foto: Jaco Marais

Saftu-lede bots met die polisie buite die parlement. Foto: Jaco Marais
Die polisie het skokgranate afgevuur om Saftu-lede uiteen te jaag voordat die begrotingsrede van die minister van finansies, Tito Mboweni, in die parlement begin het.
Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat twee mense vir die oortreding van die Wet op Rampbestuur aangekeer is.
“Hulle sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is.”
Die vakbond het ’n beroep op werkers landwyd gedoen om by die huis te bly, terwyl kleiner groepe gevra is om aan Woensdag se protes deel te neem.
Dit nadat Statistieke Suid-Afrika sy kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die vierde kwartaal van 2020 bekend gemaak het, wat toon dat werkloosheid nou op 32,5% staan.
Ons betoog om die fokus te plaas op al die ongelykhede wat werkers by die werk moet hanteer en die regering se onvermoë om dié probleme die hoof te bied.
Andre Adams, hoofsekretaris van Saftu, het voordat hy deur die polisie weggeneem is aan Netwerk 24 gesê dat hulle veral bekommerd is oor die hoë werkloosheidsyfer.
“Ons betoog om die fokus te plaas op al die ongelykhede wat werkers by die werk moet hanteer en die regering se onvermoë om dié probleme die hoof te bied.”
Adams sê vakbonde is siek en sat om te hoor hoe werknemers net eenvoudig die Covid-19-pandemie as ’n verskoning gebruik om van werkers ontslae te raak, salarisse te verminder en “werkers vas te vat”.
Die Saftu-leierskap het die inhegtenisneming veroordeel en gesê dat die polisie onnodig hardhandig teenoor hulle leiers opgetree het aangesien geen wette gebreek is nie.
Die vakbond het geëis dat die twee lede onmiddellik vrygelaat word.
Die polisie het daarin geslaag om betogers weg te hou van die parlementsgebou en betogers het kort daarna opgeruk na die Parade waar hulle verder betoog het.