Twee polisiebeamptes van die Westville-polisiekantoor in KwaZulu-Natal, is Woensdag in hegtenis geneem op aanklagte van omkopery en korrupsie.
Volgens brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, is die polisiemanne, van onderskeidelik 42 en 31 jaar oud, Woensdag in hegtenis geneem. Hulle sal eersdaags in die landdroshof in Pinetown verskyn.
“Die polisiebeamptes het Woensdag omstreeks 09:00 ’n vragmotor in Essex Terrace-straat, Westville, afgetrek. Hulle het agtergekom dat die vragmotor se lisensie verval het en dat verskeie buitelanders deur die bestuurder vervoer word.
“Die sersant en konstabel het kontant van die bestuurder gevra wat hulle na ’n plaaslike winkelsentrum moes vergesel om die bedrag by ’n kitsbank te onttrek. Die bestuurder moes eers sy werkgewer kontak om die kontant in sy rekening te betaal,” het Naicker gesê.
“Die werkgewer het intussen die Westville-polisiekantoor gekontak en die polisiebeamptes is toe by die winkelsentrum deur hul kollegas in hegtenis geneem.
“Die mans is in aanhouding en sal van omkopery en korrupsie aangekla word,” het Naicker gesê.