Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 vas ná 3 gesteelde motorfietse by huis gevind is

Drie gesteelde motorfietse is by ’n huis in Port Elizabeth gevind wat vermoedelik as ’n wegsteekplek gebruik word voordat dit oor die grens na Mosambiek geneem word.

Die drie motorfietse wat die afgelope week in Port Elizabeth gesteel en Woensdagmiddag by ’n huis in Blouwaterbaai gevind is. Foto: Verskaf

Die ontdekking is Woensdagmiddag by ’n huis in Maureen-sirkel in Blouwaterbaai gemaak toe die polisie inligting opgevolg het nadat ’n motorfiets vroeër in Walmer gesteel is.

Hierdie gesteelde motorfiets se opsporingstoestel het die polisie na die huis gelei, waar daar nog twee gesteelde motorfietse gevind is.

Die drie motorfietse, ’n Suzuki GSX-R1000 en twee BMW 1200 GS-Adventure-motorfietse, is die afgelope week in Humewood en Walmer gesteel.

Volgens betroubare inligting het die polisie vier Mosambiekse burgers by die huis in Blouwaterbaai gevind.

Die mans het weggehardloop en die polisie het waarskuwingskote geskiet.

Een man is buite die huis aangekeer, terwyl ’n tweede man in die plafon van die huis gevind is.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die twee mans, 24 en 25 jaar oud, is in hegtenis geneem. Daar word nog gesoek na die twee wat weggekom het.

Hy sê die polisie vermoed die gesteelde motorfietse word vir ’n tyd lank by die betrokke huis versteek voordat dit oor die grens na Mosambiek geneem word.

Daar is ook motorfietsonderdele in die huis gevind. Foto: Verskaf

Die deurbraak kom in ’n tyd wat die Nelson Mandelabaai-metro onder ’n vlaag van motorfietsdiefstalle deurloop.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het onlangs weer eens motorfietseienaars gewaarsku om hul ysterperde behoorlik te beveilig. Sy sê die polisie vermoed meer as een sindikaat is in die gebied bedrywig.

Volgens die polisie se inligting is meer as 25 motorfietse verlede jaar in die metro gesteel. Duur KTM- en BMW-modelle is veral onder die diewe gesog.

Daar sal volgens Naidu ondersoek ingestel word of die twee mans wat aangekeer is, ook met ander sake verbind kan word. Hulle word voorlopig vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere en diefstal aangekla.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Mosambiek  |  Motorfietse  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.