Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 vas ná moord op boer van Oos-Kaap

Twee mans is in hegtenis geneem ná die moord op Shaun Krull (48), ’n boer van Crossways, buite Oos-Londen, wie se lyk met steekwonde in die veld gevind is.

Hy was die broer van Alwyn Krull, eienaar van Sunrise Eggs, en is waarskynlik Donderdagnag vermoor.

Plaaswerkers het Vrydagoggend omstreeks 08:00 op sy lyk in die veld afgekom. Hy het op sy rug gelê en daar was twee steekwonde aan sy bolyf. Die werkers het die polisie ontbied.

Die polisie sê Krull het Donderdagaand omstreeks 19:00 die plaas gepatrolleer voordat sy lyk die volgende oggend gevind is. Sy bakkie, selfoon en beursie is ook weg.

’n Groot soektog is Vrydag op tou gesit en verskeie eenhede, onder meer ’n honde-eenheid, was betrokke.

Die polisie het Saterdag gesê Krull se bakkie is in die veld in ’n landelike gebied van Ngqolowa in die Middledrift-omgewing naby die Chungwa-polisiëringsgebied gekry.

Dit is naby die huis van ’n man wat vir Krull gewerk het, maar afgedank is.

Die polisie is na sy huis waar dié 26-jarige man in hegtenis geneem is. Sleutels van die plaas, ’n flitslig wat aan Krull behoort het, en vleis wat hy moontlik gekoop het, is gevind waar dit in die huis versteek was. Nog ’n verdagte (23) is in hegtenis geneem.

Die bakkie is na die polisie se forensiese afdeling in Oos-Londen geneem. Dit was gesluit.

’n Derde verdagte het weggehardloop en ’n soektog na hom is begin.

Die bestuur van Gonubie se polisiekantoor het die polisiebeamptes van verskillende eenhede lof toegeswaai vir hul optrede.

In boodskappe van medelye op Facebook het mense die moord op Krull as sinloos en hartverskeurend beskryf.

Volgens Sunrise Eggs se Facebookblad verskaf die plaas eiers aan kleinhandelaars oral in die Oos-Kaap.

Krull se familie kon nie vir kommentaar bereik word nie. 

Meer oor:  Shaun Krull  |  Oos-Kaap  |  Vermoor  |  Eierboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.