Minstens drie mense is binne 48 uur in Plettenbergbaai in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem in verband met onderskeidelik ’n ongelisensieerde vuurwapen en ’n gesteelde motorfiets.
Die polisie sê twee mans is Maandag in hegtenis geneem toe lede van Plettenbergbaai se sektor-spanne omstreeks 22:20 besig was om Marineweg te patrolleer. Hulle het twee mans langs die pad opgemerk en een het vir hulle verdag voorgekom. Luidens ’n verklaring het die lede die twee voorgekeer en deurgesoek. Die polisie het ’n 9 mm Rambo-vuurwapen en ’n mes by hulle gevind en daarop beslag gelê. Hulle is in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ’n gevaarlike wapen.
Dinsdag omstreeks 02:00 het polisielede op patrollie ’n gesteelde motorfiets teruggevind. ’n Lid van die publiek het die polisie in kennis gestel van verdagte bedrywighede naby Signal Hill in Plettenbergbaai.
Die gebied is deurgesoek en hulle het afgekom op ’n motorfiets wat in die bosse versteek was. Nadere ondersoek het aan die lig gebring dat die motorfiets vroeër gesteel is.
’n Man is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van gesteelde eiendom.
Volgens die Plettenbergbaaise vereniging vir die voorkoming van misdaad se Facebookblad is ’n Weber-braai en ander braaitoerusting ook by die motorfiets gevind.
https://www.facebook.com/PBCPA