Die Valke in Limpopo het twee mans in hegtenis geneem wat glo onwettig goud gemyn het buite Giyani.
Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê daar is beslag gelê op sowat R1 miljoen se toerusting wat glo gebruik is vir die onwettige gouddelwery.
Masawana Zameri (25) en Godfrey Makuyana (38) het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Giyani verskyn.
Die Valke het Donderdag toegeslaan en op sakke afgekom waarin stukke klip is waaruit goud gedelf kan word. Daar is ook op industriële hamers, kragopwekkers en sementmengers beslag gelê.
Maluleke sê dit is nie duidelik hoe lank die mense by die onwettige mynwerk betrokke was nie. Volgens hom word dit nog ondersoek of daar dalk ’n sindikaat betrokke is by die onwettige gouddelwery.
Die Valke in Limpopo het al tevore in die Giyani-gebied toegeslaan waar verlate goudmyne wat al jare lank in onbruik is, steeds deur onwettige myners betree word.
Zameri en Makuyana is in aanhouding en sal Donderdag om borgtog aansoek doen.