Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 vasgetrek wat boer (92) glo aanval en beroof

Boere in Noordwes het Sondag binne ure nadat ’n 92-jarige boer aangerand en beroof is, twee vermeende plaasaanvallers vasgetrek.

Die 92-jarige Piet Raath Sondag nadat hy op sy plaas in Noordwes aangeval is. Foto: Verskaf

Piet Raath het die twee mans glo kort voor die aanval op sy plaas Brakpan, naby Gloudina in die Wolmaransstad-distrik water gegee nadat hulle gesê het dat hulle dors is. Hulle het kom kort daarna oorval.

“Hy is nie ernstig beseer nie, maar erg verniel en getraumatiseer,” het sy seun, Chris, Maandag gesê. “My pa was kort ná die aanval baie deurmekaar van skok.”

Die boere het Sondagmiddag paaie afgesper, met honde spoorgesny en ’n mikrovliegtuig ingespan om die twee verdagtes in die mielielande vas te trek, het Fransie Hugo van Ottosdal se gemeenskapspolisiëringsforum gesê.

Hugo en verskeie noodgroepe in die omgewing, onder meer die Bamboesspruit- en Gloudina-groepe, het vinnig gereageer toe hulle hoor dat Raath op sy plaas aangeval is.

Chris sê ’n plaaswerker (net bekend as Johannes) het sy pa Sondag rondom middagete gewaarsku dat vreemde mense op die plaas rondloop. “My pa het uitgegaan. Die twee jong mans het drinkwater gevra, en Johannes het vir hulle twee liter water gegee.”

Johannes is buite die huis vasgebind en geslaan, maar hy is nie ernstig beseer nie.

Die twee mans het Raath ook buite die huis oorrompel, met ’n kierie geslaan, teruggeneem die huis in en sy hande en voete met skoenveters vasgebind.

“Terwyl my pa in een van die kamers op die vloer gelê het, het die rowers in Afrikaans gesê hulle soek geld. My pa het beduie dat daar in ’n kas in ’n ander vertrek geld is. Die twee het intussen ook my pa se vuurwapen, wat nie gelaai was nie, in die huis gekry en dit op hom gerig. Hy het gesmeek hulle moet hom nie skiet nie.”

Die rowers het die geld in die kas gekry en ook vleis, knipmesse, skoene en ’n horlosie van Piet se oorlede vrou, Ria, gesteel.

My pa wou al Sondagaand weer op die plaas gaan slaap.
Chris Raath

Hulle het daarna te voet gevlug en Johannes het daarna op die buurplaas gaan hulp soek. Die nuus oor die aanval is daarna vinnig onder die noodgroepe versprei.

Volgens Hugo het die boere die twee mans se spore tussen die mielielande gevolg. Albei is ure ná die aanval kilometers van Raath se plaas in ’n mielieland vasgetrek. Al die gesteelde goedere wat in ’n kleretas en in ’n plastieksak was, is teruggevind.

Die polisie was ook op die toneel en die twee is in hegtenis geneem.

“My pa wou al Sondagaand weer op die plaas gaan slaap,” sê Chris. “Daar is veiligheidsdeure en diefwering, maar hy was juis oorval toe hy (helder oordag) buitentoe is. Buiten vir die beserings aan sy gesig het hy ook kneusplekke aan sy lyf waar die rowers hom hardhandig gehanteer het.”

Raath sien nog na sy beeste op die plaas om, maar verhuur die landerye. Chris boer op ’n ander plaas sowat 11 km van sy pa af.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes, het plaaswaglede geloof vir hul hulp aan die polisie om misdaad in hul omgewing te bekamp.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê die twee verdagtes, onderskeidelik 19 en 26 jaar oud, verskyn Dinsdag in die landdroshof in Wolmaransstad op aanklagte van huisroof, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Wolmaransstad  |  Noordwes  |  Beroof  |  Boer  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.