Die polisie in Paarl-Oos is hard op soek na die twee moordenaars van ’n bejaarde vrou in haar huis in die Paarl in die Wes-Kaap.
Volgens inligting het twee mans Woensdag tussen 21:30 en 22:00 aan die deur geklop van die huis in Elrichesingel, Charleston Hill, waar die 83-jarige Joan Joyi (née Carolissen) saam met haar 57-jarige oppasser gewoon het.

Joan Joyi (83) is Woensdag in haar huis in Charleston Hill in die Paarl vermoor.
Volgens ’n bron het Joyi die deur vir die mans oopgemaak. Die mans het haar en haar oppasser glo oorval en hulle vasgemaak.
Die oppasser is daarna glo in die badkamer toegesluit.
Volgens die bron het die twee mans egter vir Joyi gewurg en vir die dood agtergelaat.
Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die mans het met persoonlike besittings, insluitend twee selfone, ’n platskermtelevisie en ’n naaimasjien op die vlug geslaan.
Volgens Van Wyk het die 57-jarige oppasser nadat die mans gevlug het daarin geslaag om haarself te bevry en het sy die paniekknoppie gedruk wat hulle met ’n sekerheidsfirma en die polisie verbind.
Die verdagtes het glo in ’n onbekende voertuig van die toneel af gevlug.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Mense met inligting oor die voorval word gevra om die ondersoekbeampte, speurkaptein Auckland Losper, by 082 469 1509 te kontak, of die Stopmisdaadnommer by 0860 010 111 te skakel.