Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 verdagtes in Drotské-saak weer vrygelaat

Die twee mans wat deur die polisie aangehou is weens die aanval op die oud-Springbok Naka Drotské en kie is Saterdag vrygelaat.

Kapt. Kay Makhubela, ’n polisiewoordvoerder, het aan Rapport gesê daar was nie genoeg bewyse om die mans met die misdade te verbind nie. Hulle is Vrydag deurnag ondervra.

Die swart werkshandskoen wat ’n aanvaller op die D
Die swart werkshandskoen wat ’n aanvaller op die Drotskés se hoewe agtergelaat het. Dit het aan ’n boomstomp langs die tuinpaadjie vasgehaak. Foto: Ian Cameron

Rapport verneem hulle bly in die Kameeldrift-omgewing, noordoos van Pretoria, waar Drotské, sy broer Tinus, vriend en oudspanmaat Os du Randt, en hul families aangeval is.

Naka is nog in die waakeenheid van die Netcare Montana-hospitaal. Hy is in die bors en in sy elmboog geskiet, maar sy vrou, Marzanne, het gister gesê hy is stabiel en dit gaan goed onder omstandighede.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is hoogs krities oor die polisie se ondersoekwerk.

Hy sê toe hy kort ná die skietery op die toneel gekom het, het ’n forensiese beampte van die polisie op die toneel gestaan en rook. Dit was naby die plek waar Naka geskiet is. Daar was nog bloedspatsels in die huis.

Die polisie kan nie op ’n toneel wat hulle ondersoek, rook nie, want dit kan die toneel aantas, sê Cameron. Dié beampte is toe deur ’n senior van hom berispe omdat hy rook.

Hy sê die polisie het nie al die koeëldoppies opgetel nie. Hulle het een 9 mm-koeëldop op die toneel gemis, asook ’n swart werkshandskoen wat ’n aanvaller agtergelaat het.

Volgens Cameron het dié handskoen aan ’n boomstomp langs die tuinpaadjie vasgehaak toe die aanvaller weggehardloop het. Cameron en lede van die Kameeldrift-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het daarop afgekom.

“Die polisie het dit nie eens gesien nie.”

Hulle het dit toe aan die polisie uitgewys.

Genl.maj. André Wiese, bevelvoerder van Tshwane-Oos, het aan Rapport bevestig die handskoen is vir ontleding saamgeneem.

“ ’n Forensiese span het Vrydagoggend die toneel gefynkam vir leidrade en DNS. Ons hoop dat ons DNS van die handskoen af kan kry en dat dít ’n verdagte op die toneel kan plaas.

“Klomp ander mense op die toneel word ook ondervra deur die polisie. Enige plaasaanval is ’n prioriteit.’’

Hy sê die voorlopige ondersoek dui daarop dat daar drie aanvallers was. Dit is onduidelik of enigiets gesteel is.

Die private speurder Mike Bolhuis, wat self in Kameeldrift woon, sê dié gebied loop gereeld deur onder opportunistiese rowers.

“Dit was nie ’n hit of ’n sindikaat nie. Maar vandag se boewe sal skiet as hulle gekonfronteer word.”

Hy sê rowers teiken veral groepe mense wat by huise saamkuier, want dis meer juwele en selfone wat geroof kan word. Die gaste konsentreer op mekaar en is nie noodwendig paraat nie.

Cameron het ’n lys van 24 aanvalle wat die afgelope jaar in die gebied plaasgevind het.

In ’n onlangse geval is Etricia du Toit (72) in haar kakebeen geskiet. Cameron sê al haar tande is uitgeskiet en sy het steeds nie voldoende herstel om vals­tande te kry nie.

Meer oor:  Naka Drotské  |  Os Du Randt  |  Rooftog  |  Poging Tot Moord  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.