Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 verdagtes vas wat glo PE-winkelsentrum wou beroof

’n Man is in die nek geskiet en nog een is deur ’n polisiehond gevang nadat ’n groep mans ’n winkelsentrum in Port Elizabeth probeer beroof het.

Die twee mans is Maandagoggend vroeg aangekeer nadat die polisie omstreeks 03:45 gereageer het op ’n roofklag by die Baywest-winkelsentrum.

Volgens ’n polisiebron het ’n groep van vier mense die winkelsentrum binnegedring terwyl personeellede die geld uit die parkeergeldmasjien verwyder het. ’n Vyfde man, wat na bewering saam met die groep rowers gewerk het, het buite die sentrum in ’n Nissan 1400-bakkie gewag.

Foto ter illustrasie: Een van die ingange by die Baywest-winkelsentrum in Port Elizabeth. Foto: Argief

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die polisie het die Nissan-bakkie sonder nommerplate voor die winkelsentrum se ingang opgelet. Terwyl die polisievoertuig nader gery het, het die bakkie skielik weggetrek en op die polisievoertuig afgepyl.

“Die polisie het uitgeswenk en skote op die voertuig (bakkie) afgevuur, wat dit tot stilstand gedwing het. Die bestuurder (van die bakkie) het ’n skietwond aan sy nek opgedoen,” sê Janse van Rensburg.

Intussen het die polisie beweging by die nooduitgang van die winkelsentrum opgelet en dadelik bykomende hulp van Kabegapark-polisiekantoor en die honde-eenheid aangevra.

Volgens die polisiebron het die vier mans in die sentrum ’n veiligheidswag oorrompel en saam met die wag in die rigting van die uitgang naby die ysskaatsbaan beweeg. Nadat die skote buite die sentrum gehoor is, het die groep in die sentrum in verskillende rigtings gespat. Drie van die rowers het na buite gehardloop, terwyl een terug by die sentrum ingehardloop het.

Janse van Rensburg sê die polisielede het gesien hoe een man na die agterkant van die sentrum hardloop. Max, die polisiehond, is op die verdagte se spoor losgelaat. Hy het die man in een van die sentrum se toilette vasgetrek.

Die drie rowers wat gevlug het, word nog gesoek.

Die polisie het die 27-jarige bakkie-bestuurder en die 32-jarige man wat in die sentrum aangekeer is, na ’n plaaslike hospitaal vir behandeling geneem.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die Nissan-bakkie in Desember 2019 in KwaDwesi as gesteel aangemeld is.

Janse van Rensburg sê benewens ’n saak van poging tot roof by ’n sakeonderneming, sal ’n saak van die besit van ’n gesteelde voertuig ook teen die 27-jarige man ondersoek word. Die polisie ondersoek verder die moontlikheid dat die twee verdagtes by ander soortgelyke rooftogte in die stad betrokke was.

Maandagoggend se voorval was enkele weke nadat rowers die sentrum op Sondag 19 Januarie binnegevaar en ’n MTN-winkel beroof het. Verskeie selfone is gebuit voordat dié groep in ’n BMW gevlug het. Vyf verdagtes is later by ’n huis in Morningside aangekeer en 167 vermoedelik gesteelde selfone is teruggevind.

Die Baywest-winkelsentrum het later Maandagoggend die poging tot roof op sy Facebookblad bevestig. Die sentrum bedank die polisie vir hul spoedige optrede en sê geen personeellid is in die voorval beseer nie.

Ook genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, het die polisielede, asook die winkelsentrum se veiligheidswagte, vir hul optrede geloof.

“Die strategiese wyse waarop polisielede die voorval benader het, het professionaliteit en takt uitgebeeld. Hul oplettendheid gedurende die situasie het gelei tot die inhegtenisneming van die ander verdagte wat in die toilet weggekruip het,” sê Patekile.

“Ons bedank ook die veiligheidspersoneel van die sentrum wat die polisie onmiddellik in kennis gestel het toe hulle van die verdagte aktiwiteite bewus word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.