Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 vermeende booswigte vas ná aanval op bejaarde egpaar

Die twee mans wat in verband met ’n plaasaanval en -moord in die Hammanskraal-omgewing, noord van Pretoria, vasgetrek is, was moontlik deel van ’n groter groep wat by verskeie huisbrake en rooftogte in die omgewing betrokke was.

Lawrence Makhubela (48) en Jacob Maponyane (45) is net meer as ’n maand ná die aanval op Andries Nieuwoudt en sy vrou, Mariaan, kort voor Kersfees, aangekeer.

Die twee, wat voorlopig aangekla word van die moord op Nieuwoudt, sowel as van roof met verswarende omstandighede, sou Maandag in die landdroshof in Cullinan aansoeke om borgtog bring.

Andries Nieuwoudt

Hulle het egter op die nippertjie besluit om nie daarmee voort te gaan nie, vermoedelik nadat hulle ingelig is dat die ander hangende sake teen hulle en hul ander beweerde makkers hul kanse op sukses drasties verminder.

Die saak is hierop uitgestel na volgende maand vir instruksies van die direkteur van openbare vervolging.

Makhubela en Maponyane is op 28 Januarie in hegtenis geneem nadat genl.maj. Hilda Mohajane, polisie-groepbevelvoerder van Tshwane-Noord, die aanval op die Nieuwoudt-egpaar ’n hoëprofielsaak gemaak het, sê Casper Liversage, voorsitter van die Hammanskraal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

“Van ons lede het saam met ’n spesiaal toegewysde speurder en die polisie se opsporingseenheid 48 ure aaneen gewerk om, toe hulle inligting rakende die verdagtes bevestig is, dit op te volg,” het hy gesê.

Die verdagtes is naby die Nieuwoudts se grond vasgetrek.

Die Nieuwoudt-egpaar is vermoedelik op 21 Desember aangeval.

Liversage sê dit blyk dat mev. Nieuwoudt (69) die middag alleen tuis was en buite op die werf doenig toe sy oorval is, vermoedelik deur meer as twee aanvallers.

Sy is aangerand, die huis ingedwing en in ’n badkamer toegesluit, waarop die aanvallers toe vir Nieuwoudt, in sy 70’s, gewag het om terug te keer.

Hy is met ’n ysterpaal oor die kop geslaan en sy hande en voete vasgebind.

Die egpaar was baie privaat en daarom was niemand bewus van die aanval nie.

Die aanvallers is later vort met wapens en die slagoffers se motor. Hulle het die egpaar net so vasgebind en toegesluit daar gelaat.

Dit was eers twee dae later wat die polisie ’n verlate motor in ’n aangrensende omgewing gevind en die GPF genader het om die eienaar te help opspoor.

Die GPF het in die gemeenskap navraag oor die motoreienaars gedoen en ’n inwoner het hulle na die egpaar verwys.

“Die egpaar was baie privaat en daarom was niemand bewus van die aanval nie,” het Liversage vroeër verduidelik.

Iemand het die Nieuwoudts gebel. Die vrou, wat kort tevore haarself uiteindelik uit die badkamer kon bevry, was glo erg verward toe sy geantwoord het.

Lede van die GPF is na die huis en het dadelik die polisie en die nooddienste ontbied.

Nieuwoudt het nog gelewe toe hulle hom steeds vasgebind gevind het. Hy is hospitaal toe geneem nadat hy op die toneel gestabiliseer is, maar is dieselfde dag dood.

Sy vrou was ook vir ’n ruk gehospitaliseer.

Liversage het na die twee verdagtes se hofverskyning gevra dat gemeenskappe, veral die wat op hoewes en plase bly, uitreik en betrokke raak by hul bure en GPF-strukture sodat daar vinnig opgetree kan word wanneer moeilikheid opduik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.