Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 wagte sit 9 j. nadat hulle R2,9 m. ‘vir hulself vat’
’n Paar duisend rand se note lê nie te diep onder die grond in een van die verdagtes se erwe versteekFoto: Verskaf

Twee voormalige veiligheidswagte van die Fidelity-veiligheidsgroep wat tussen Kersfees en Nuwejaar hul sakke vol gestop het met R2,9 miljoen, is die geld en hul vryheid kwyt.

Tinyiko Thomas Maluleke (41) en Rofhiwa Emmanuel Luvhimbi (31) is elkeen in die landdroshof in Louis Trichardt tot nege jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle skuld op ’n aanklag van diefstal beken het.

Dit was nadat ’n gesamentlike taakspan van die Valke, die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die Louis Trichardt-polisie se taakmag en Thohoyandou se taktiese reaksiemag deurnag op drie verskillende plekke gate moes grawe om die hordes geldnote uit wegsteekplekke onder die grond te vind.

“Van die geld is in hopies in roomysbakke en vullissakke in die verdagtes se erwe begrawe. Ons kon R2,7 miljoen só vind, maar die res is reeds deur die een verdagte gebruik om ’n dubbelkajuitbakkie te koop, asook boumateriaal vir opknappings aan sy huis,” sê kapt. Matimba Maluleke van die Valke in Limpopo.

’n Deel van die opgegraafde versteekte vonds.Foto: Verskaf

Hy sê die twee kollegas moes in Desember geld van verskeie plekke oplaai en toe die vrag by die depot aflaai, waar dit getel sou word.

“Maar, pleks van al die geld deponeer, het hulle daarvan vir hulself gevat,” sê Maluleke.

Omdat die vragte kontant eers by die depot getel moes word, is die tekort dus nie onmiddellik opgemerk nie.

“Die twee verdagtes se bestuurder het wel kort daarna die diefstal aangemeld toe die twee wagte nié kon verduidelik waar die meer as R2 miljoen is nie.

“Die saak is deur die gesamentlike taakspan ondersoek en die verdagtes het ná ondervraging gaan uitwys waar hulle die geld by hul huise begrawe het.

“Die ondersoekspan het op drie verskillende plekke in ’n deurnag-operasie die versteekte geld uitgegrawe.

“Dit, en die voertuig en boumateriaal wat met ’n deel van die geld aangekoop is, is op beslag gelê,” sê Maluleke.

Die gesteelde miljoene is in kleiner bondels in onder meer roomysbakke en swartsakke begrawe.Foto: Verskaf
Van die bondels geldnote wat uit ’n versteekte roomysbak gehaal is.Foto: Verskaf
Die ondersoekspan het deur die nag tot sonsopkoms gegrawe om al die bondels versteekte geld op te spoor.Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.