Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
20 VS-tieners glo vir inisiasie na Lesotho ontvoer

Minstens 20 Vrystaatse tieners is glo sonder hul ouers se toestemming oor die grens met Lesotho na ’n inisiasieskool in die Malutiberge gelok.

’n Vermeende ontvoerder van Lesotho lok glo Vrystaatse tienerseuns oor die droë dele van die Caledonrivier deur die grens na ’n inisiasieskool. Hy eis nou geld van die ouers om die kinders terug te kry. Foto: George Pietersen/Reënval in SA/Facebook

Nou word geld van die ouers geëis voordat hulle kan huis toe gaan.

Mphonyana Mothibeli, wie se 14-jarige seun einde November ontvoer is, beweer ook die hond van die man wat die seuns oor die grens lok, het haar seun se maat doodgebyt.

Sy is woedend en raadop omdat die polisie op Ladybrand volgens haar weier om ’n saak te open omdat “die seuns sonder paspoorte oor die grens is” en nie by was toe sy ’n klag aanhangig wou maak nie.

Die polisie ontken egter dat hulle weier om te help.

Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie het klagtes ontvang van kinders wat onwettig na ’n inisiasieskool in Lesotho geneem is. Hulle werk saam met die polisie in Lesotho en die ouers om die kinders terug te bring.

Die ontvoerder, wie se identiteit glo algemeen bekend is, eis glo ’n skaap en R3 700 vir elke seun vir die inisiasie en dreig om die kinders dood te maak as hy nie die geld kry nie.

Hy neem die seuns glo deur die droër dele van die Caledonrivier, wat die grens vorm, na die Khubetsoana-gebied in die Berea-distrik waar hulle deur die inisiasieproses gaan.

“Hy het verlede week weer gebel en gesê ek moet die geld stuur, anders sal hy my seun doodmaak,” sê Mothibeli.

Die ouers kan skaars brood op die tafel sit.

Suster Mechthilde Faist van die Regina Pacis-sentrum van die Katolieke Assisi-sending op Marseilles in die Vrystaat, sê twee kinders van ouers wat op die sendingstasie woon en werk, is ontvoer.

Die ander 18 seuns se ouers woon op Ladybrand en plase in die gebied.

“Dit is ’n misdaad, want die kinders, van wie baie jonger as 16 jaar oud is, het nie ’n paspoort of amptelike toestemming nie. Die plaaslike inisiasie-tradisie verskil ook van dié in Lesotho.”

’n Boer van die Ladybrand-omgewing wat anoniem wil bly, sê in ’n onlangse voorval is drie seuns by die grens geïntimideer. Twee is ontvoer en volgens hom is een doodgeslaan.

Hulle stap verby militêre kasernes wat 100 m van die pad af is. Daar gaan niks gebeur nie, want niemand keer hulle of doen ondersoek nie.

Die polisie op Ladybrand het aan hom gesê hul hande is afgekap.

Volgens hom kyk die Caledonspoort-polisie van Lesotho anderpad wanneer die man en seuns deur die droë rivier stap.

“Hulle stap verby militêre kasernes wat 100 m van die pad af is. Daar gaan niks gebeur nie, want niemand keer hulle of doen ondersoek nie.”

Mbambo sê nadat die polisie klagtes ontvang het, het die provinsiale kommissaris lede van die provinsiale kantoor ontplooi om met die ouers te gesels om uit te vind wat die beste manier is om hulle te help.

“Ons moet verklarings van die ouers kry sodat klagtes geregistreer kan word.”

Sy sê van die ouers het geweier om verklarings af te lê en net sommige het hulp van die polisie gevra om hul kinders terug te bring.

“Ander ouers het glad nie saamgewerk nie en dit lyk asof hulle aanvaar het hul kinders is by die inisiasieskool.”

Danksy die ingryping van die provinsiale kantoor wat met Lesotho se polisie saamgewerk het, het drie kinders na hul huis toe teruggekeer, sê Mbambo.

Ouers van die oorblywende kinders word gevra om met die polisie saam te werk om hulle terug te bring.

“Hulle is onwettig in ’n ander land.”

Meer oor:  Lesotho  |  Ladybrand  |  Inisiasie  |  Ontvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.