Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
23 van polisie, metropolisie vas vir korrupsie

Verskeie polisie- en metropolisiebeamptes het Vrydagoggend hul rieme styfgeloop nadat ’n taakspan van die Valke hulle vir beweerde korrupsie vasgetrek het.

12 polisielede is by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg op verskeie aanklagte van korrupsie in hegtenis geneem. Dit volg ná ’n intensiewe ondersoek deur die Valke se korrupsie-taakspan.

Polisielede wat vasgetrek is, sluit twee adjudant-offisiere, ses sersante en vier konstabels in.

“Tydens die inhegtenisneming van een van die lede by sy huis is ook op R1 miljoen kontant beslag gelê,” lui ’n verklaring van die Valke.

Die polisielede is tussen 30 en 51 jaar oud.

Volgens die verklaring word nog vyf polisielede met die beweerde korrupsie verbind.

“Een is in kwarantyn (weens Covid-19) en sal daarna in hegtenis geneem word, terwyl ons verwag dat drie lede hulself sal oorgee. Die oorblywende lid is steeds soek,” lui die verklaring.

Die lede word onderskeidelik van diefstal, dwelmhandel, regsverydeling en rampokkery aangekla.

“Die lede het hulself glo skuldig gemaak aan korrupsie deur dwelms waarop beslag gelê is, te steel. Altesaam 20 dossiere vir korrupsie is reeds geopen,” lui die verklaring.

Volgens ’n bron met kennis van die ondersoek het die lede gereeld dwelmvondste met meel vervang en dit dan vir toetsing na die forensiese afdeling van die lughawe gestuur.

Die bron sê ook dat die lede dwelmmuile iewers tussen die lughawe en die hospitaal “wonderbaarlik” laat verdwyn het.

Dwelmmuile word na hospitale gebring sodat dwelms uit hul liggaam gehaal kan word.

“Hulle rapporteer dan net dat die persone geen dwelms in hul liggaam gehad het nie. Dit gebeur as spesifieke mense diens gedoen het,” sê die bron.

Dieselfde Valke-taakspan het ook Vrydagoggend toegeslaan op 11 Tshwane-metropolisiebeamptes tussen 32 en 49 jaar oud, wat hulself glo aan omkopery skuldig gemaak het.

Dié beamptes het na bewering omkoopgeld versoek en ontvang van motoriste wie se voertuie onpadwaardig is en ook ander padreëls oortree het.

Die ondersoeke spruit so ver terug as November 2018.

“Hierdie dade het ongeregtigheid op ons paaie laat geskied en verskeie ernstige ongelukke veroorsaak,” lui die verklaring.

Die metropolisiebeamptes sal Dinsdag in die landdroshof in onderskeidelik Pretoria, Temba en Hammanskraal verskyn, terwyl die polisielede ook Dinsdag in die streekhof in Kempton Park sal verskyn.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, Valke-hoof, het die inhegtenisnemings verwelkom.

Meer oor:  O.R. Tambo-Lughawe  |  Johannesburg  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Metropolisie  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.