In die eerste 57 dae van inperking is sowat 230 000 sake deur die polisie geopen teen byna net soveel mense wat regulasies oortree het, sê Bheki Cele, minister van polisie.
Dit sluit in alkohol- en sigaretverwante oortredings, onwettige byeenkomste, mense wat buite hul huis was, onwettige oorgrens- of interprovinsiale bewegings, sakeoortredings en vervoerverwante oortredings, veral deur taxi’s.
Op die vraag waarom mense in hegtenis geneem word as hulle met drank in hul motor betrap word, sê Cele die regulasies is duidelik daaroor dat die vervoer van drank onwettig is.
“Of die drank nou in jou mandjie of sak is, jy mag dit nie van een plek na ’n ander vervoer nie. Jy kan dit net in jou eie huis drink.

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Roger Sedres
“Net so mag jy sigarette ook net in jou huis rook. Dit is nie onwettig om in jou huis te rook as die sigarette daar was nie.”
Cele sê die meeste oortredings was in die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.
Mense is óf boetes opgelê óf op waarskuwing vrygelaat.
Ander is op borgtog vrygelaat en die res word weens ernstige misdade vervolg.
Georganiseerde misdaadsindikate buit die inperking uit en het ook hul smokkelbedrywighede uitgebrei na die handel in onwettige en vervalste sigarette en drank, sê Cele.
“Daar was ook ’n toename in die smokkel van onwettige drank en tabak tussen Suid-Afrika en buurlande soos Botswana, eSwatini, Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe, asook die verkoop van dié produkte in die sluikhandel.”
Soldate het in Maart beslag gelê op R1,07 miljoen se onwettige drank en sigarette aan Suid-Afrika se grense met Mosambiek en Zimbabwe en in April op R1,6 miljoen s’n.
Die polisie het in April aangekondig dat daar ’n drastiese afname was in veral die kontakmisdaad-kategorie teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Kontakmisdade sluit huishoudelike geweld en die trio-misdade – motorkaping en huis- en sakerooftogte – in.
Tot dusver was daar gedurende die inperking net vier transitorooftogte vergeleke met die 26 in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.