Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
268 inbrake by skole in O-Kaap tydens inperking

Terwyl Oos-Kaapse skole spook om voor Maandag die nodige voorsorgmaatreëls vir hul heropening ingestel te hê, het meer as 200 skole boonop te kampe met die skade wat in inbrake aangerig is

Sedert die dag ná die inwerkingtreding van die staat van inperking (28 Maart) tot 2 Junie is 268 inbrake by skole in die provinsie aangemeld.

Die syfers is in ’n verslag wat Weziwe Tikana-Gxothiwe, Oos-Kaapse LUR vir vervoer en veiligheid, aan die provinsiale regering se Covid-19-raad voorgelê het.

Volgens die verslag is skole veral vir kos, rekenaartoerusting, gereedskap, watertenke en deure geteiken.

Die polisie het in 21 van die sake, wat tydens vlak 5 en vlak 4 van die inperking aangemeld is, reeds 48 verdagtes vasgetrek.

Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR vir veiligheid en vervoer in die Oos-Kaap. Foto: Argief

Die provinsie se Covid-19-raad het Dinsdag in ’n verklaring gesê ’n voorstel is goedgekeur om samewerking tussen die onderskeie owerhede te versterk, juis met die doel om gemeenskapsveiligheid te bevorder.

Die voorstel behels onder meer die verbeterde koördinering van werk tussen regeringsdepartemente en -instansies vir die verkryging van tegnologiese toerusting, soos hommeltuie en straatkameras, as deel van die implementering van strategieë vir veiliger stede en distrikte.

Luidens die LUR se verklaring was daar benewens die inbrake by skole ook ’n styging in inbrake by ondernemings, veral drankwinkels, en ’n toename in veediefstalle gedurende die inperkingstydperk.

’n Amptenaar van die Oos-Kaapse departement van omgewingsake het verlede week aan Netwerk24 gesê die provinsie het ’n geweldige toename in onwettige jag sedert die inperking ondervind. Informele groepe, wat met die hulp van honde jag, is vernaamlik aan die toeneem.

Amptenare van die departement het verlede week 16 mense en 32 honde in die Hofmeyr-distrik vir onwettige jag vasgetrek. Hulle is met 12 springbok-karkasse in hul besit betrap.

Die LUR se verslag het ook goeie nuus gehad, naamlik dat kontakmisdade gedurende die inperkingstydperk afgeneem het.

’n Afname van 2 270 kontakmisdade is aangemeld, vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Eiendomverwante misdade het afgeneem met 858 sake en trio-misdade met 170 sake.

Die afnames word toegeskryf aan die waaksame optrede van die polisie, weermag, verkeersowerhede en munisipale amptenare wat die inperkingsregulasies toegepas het.

Die verbod op die verkoop en vervoer van alkohol het volgens die raad ook ’n rol gespeel.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, wat ook die voorsitter van die Covid-19-raad is, het die afname in kontakmisdade verwelkom en sy waardering uitgespreek oor die werk wat tydens die staat van inperking gedoen is.

“Ons waardeer die bydrae van die nasionale regering, die soldate, die polisiebeamptes en die onbaatsugtige bydrae van alle vroue en mans in uniform, veral die verkeersbeamptes. Hulle het baie mense teen infeksies beskerm,” het Mabuyane in ’n verklaring gesê.

Hy het gesê die provinsiale regering sal voortgaan om die verspreiding van die virus te probeer stuit deur die regulasies van vlak 3 streng toe te pas.

Meer oor:  Weziwe Tikana-Gxothiwe  |  Oos-Kaap  |  Inperking  |  Skole  |  Inbrake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.