Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2de beskuldigde in Wainstein-moordsaak vermoor
Mark Lifman (agter, met die swart T-hemp) en Jerome (Donkie) Booysen (links voor) verlaat die polisieselle by die landdroshof in Kaapstad in Desember toe hulle op borgtog vrygelaat is. Foto: Adrian de Kock

’n Tweede beskuldigde in die hofsaak waarin Mark Lifman en Jerome (Donkie) Booysen, beweerde rolspelers in die Kaapse onderwêreld, van onder meer moord aangekla word, is dood nadat hy twee keer in die kop geskiet is.

Jason Maits (27) is Vrydag omstreeks 09:00 in Mitchells Plain, Kaapstad, twee keer in sy kop en een keer in sy nek geskiet toe hy die voordeur van sy huis vir ’n man oopgemaak het.

Luidens polisieverslae het drie onbekende mans in ’n wit Citi Golf met ’n swart dak by die huis in Pruimstraat in Mitchells Plain stilgehou. Een van die verdagtes het uit die kar geklim en na die voordeur geloop, waar hy Maits geroep het om uit te kom.

Volgens bronne na aan die ondersoek het Maits glo die verdagte geken. Maits het tot by die deur gekom toe die verdagte ’n vuurwapen uithaal en hom skiet.

Dit blyk bendeverwant te wees omdat Maits hom glo by die 27-bende skaar.

Maits was een van talle mense wat as deel van die Valke se Operasie Guardian-ondersoek in hegtenis geneem is en op verskeie aanklagte teregstaan.

Lifman en Booysen word daarvan beskuldig dat hulle lede van die 27-bende gehuur het om Brian Wainstein, die sogenaamde steroïedekoning, te vermoor.

Een van die beskuldigdes, William (Red) Stevens, die leier van die 27-bende, is aan die begin van Februarie voor sy huis in Kraaifontein vermoor. Sy naam is van die klagstaat verwyder.

Die beskuldigdes is in drie afsonderlike klopjagte in hegtenis geneem. Lifman, Booysen en Stevens is op 22 Desember 2020 in hegtenis geneem en op borgtog van R100 000 vrygelaat.

Vyf ander beskuldigdes – André Naudé, Sam Farquharson, Egan Norman, Jakobus (Mannas) Stevens (William Stevens se neef) en Wayne Henderson, ’n speurder van die Seepunt-polisiekantoor – is op 9 Februarie in hegtenis geneem en het dieselfde dag op aanklagte van sameswering, aanhitsing om openbare geweld te pleeg, korrupsie, regsverydeling en poging om regsverydeling te pleeg in die hof verskyn.

Hulle is op ook borgtog van verskillende bedrae vrygelaat.

’n Dag daarna, op 10 Februarie, is ’n bykomende agt beskuldigdes in hegtenis geneem en het in die hof verskyn. Hulle is Rowendall Stevens (William Stevens se seun), Anthony Christopher van der Watt, Ricardo Maarman, Typhyenne Jantjies, Bevan Cedrick Ezaus, Bradley Dubula,

Kashief Hansloo en Jason Maits. Hulle is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Dié saak is ook tot 12 Mei uitgestel, wanneer al die beskuldigdes vir die eerste keer saam in die hof sal verskyn.

Maits en Stevens is nou intussen vermoor. Niemand is al in verband met enigeen se skietdood vasgetrek nie.

Wainstein is op 17 Augustus 2017 in sy huis in Constantia doodgeskiet terwyl hy langs sy lewensmaat en kind gelê en slaap het.

Hulle word almal ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad en die Wet op Oproerige Vergaderings aangekla.

Benewens die moord op Wainstein word van die beskuldigdes ook aangekla van die vlaag skietvoorvalle by bekende Kaapse kroeë, soos Café Caprice, in 2017.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.