Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2de leerling van skool in Mosselbaai vermoor

’n Gr.9-leerling aan die Hillcrest Secondary School in Mosselbaai is Maandag dood nadat ander leerlinge die seun met ’n skerp voorwerp doodgesteek het.

Eerw. Russell Claassen, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê in ’n verklaring almal is diep geskok nadat die leerling, wat hy as Khuselo Ndanda geïdentifiseer het, vermoor is.

“Dié tragedie volg nadat die skoolgemeenskap nog sukkel om die dood van ’n ander leerling te verwerk wat die naweek in ’n onverwante voorval in een van ons woonbuurte dood is,” sê Claassen.

Die leerling, McCayla Booysen (17), is Sondagoggend vermoor toe drie mans haar en ’n doofstom vriend op straat beroof het.

Een van die aanvallers het haar glo met ’n piksteel teen die kop geslaan.

LEES OOK: Meisie in Mosselbaai dood in aanval op straat

Claassen het Maandag om kalmte gevra en gesê wanneer ’n misdaad by ’n skool plaasvind is aanvalle deur die gemeenskap gemik op die skool ongevraagd. So ook dié ongevraagde oplossings wat op sosiale media die rondte doen.

Hy sê die dood van die leerling is ’n baie betreurenswaardige voorval en nie een van die onderwysers kon die voorval voorsien nie.

“Hillcrest, soos enige ander skool, is opgerig met die primêre doel om te onderrig, te leer en navorsing te bevorder. Ons verwerp en veroordeel geweld in ons skole ten sterkste,” sê Claassen.

Hy sê die skool beleef baie trauma en het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om vir hulle te bid.

“Soos dit ook die geval met jou mag wees, is oplossings en antwoorde baie beperk en ons probeer doen wat gedoen moet word, binne perke van die wet. Die polisie is in beheer van die ondersoek.”

Hy sê berading sal verskaf word en dat onderrig sal voortgaan.

Harry Levendal, Mosselbaai se burgemeester, het sy bekommernis oor die moord van albei leerlinge uitgespreek.

Hy het ’n beroep op die polisie gedoen om alles in hul vermoë te doen om die verdagtes aan te keer.

Die polisie het in ’n verklaring bevestig ’n leerling is Maandag tydens pouse deur drie ander leerlinge aangeval. “Hy is verskeie kere in die bolyf gesteek en is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar,” sê kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, in ’n verklaring.

Hy sê die polisie in die Kwanonqaba-township by Mosselbaai het Maandag omstreeks 20:00 die laaste van die drie verdagtes in hegtenis geneem.

“Die drie verdagtes is in graad 10 tot 12 en word deur ’n aanklag van moord in die gesig gestaar.

Hulle verskyn later vandeesweek in die landdroshof in Mosselbaai sodra hulle formeel aangekla is.

“Die omstandighede en motief vir hierdie gruwelike aanval word ondersoek.”

Pojie sê die polisie en die onderwysdepartement werk saam om veiligheid by skole in Mosselbaai op te skerp. “Dit is kommerwekkend, want hierdie was nie die eerste voorval in die afgelope paar maande nie.”

Meer oor:  Mosselbaai  |  Kwanonqaba  |  Skoolmoord  |  Moord  |  Skoolmisdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.