Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2de taxibestuurder binne 12 uur in Paarl vermoor

’n Geskokte ooggetuie van ’n skietery by die Hugenote-stasie in die Paarl het Dinsdag vertel hoe twee mans vroeër die oggend ’n taxibestuurder in sy agterkop geskiet het en daarna rustig weggestap het asof niks gebeur het nie.

Die 34-jarige taxibestuurder van Bellville is net ná 08:15 by die stasie in die Paarl geskiet terwyl hy in sy voertuig op pendelaars gewag het. Hy is op die toneel dood.

Die moordtoneel Dinsdag by die Hugenote-spoorwegstasie in die Paarl. Foto: Facebook

Hy is die tweede taxibestuurder wat binne 12 uur in die Paarl doodgeskiet is. Albei was glo lede van die Cata-taxivereniging.

Die ooggetuie het gesê sy het minute tevore nog met die taxibestuurder gestaan en gesels. “Ek ken nie sy naam nie, maar hy was elke dag by die stasie.”

Hy het glo gewoonlik die roete tussen die Hugenote- en Bellville-stasie gery.

“Nadat ons gesels het, het hy na sy taxi geloop en ingeklim. Twee mans het verby my geloop. Hulle het altwee baie ordentlik gelyk en ek het niks vermoed nie.

“Die drywer se deur was oop en hy het met sy rug na hulle gesit en gewag dat sy taxi vol word.”

Die vrou sê sy het die volgende oomblik gesien hoe een van die mans ’n vuurwapen uithaal en die taxibestuurder in sy agterkop skiet.

“Ek het gesien hoe hy uitval. Hulle het omgedraai en rustig teruggestap, verby my, asof niks gebeur het nie. Die man wat geskiet het, het nog die gun voor by sy broek ingedruk.”

Die vrou sê sy het so geskrik dat sy net van die toneel af wou wegkom. “Ek was so bang dat ek amper voor ’n aankomende taxi beland het.”

’n Vrou in pienk wat in die taxi gesit het, het ook uitgeklim en weggehardloop.

Die twee aanvallers het glo tydsaam gestap na ’n swart Volkswagen Golf verder af in die straat, en ingeklim en weggery, sê die ooggetuie.

* Maandag net ná 21:30 is ’n taxibestuurder ook in sy huis in Paarl-Oos geskiet. Hy is later in die hospitaal dood.

Die skietery was glo kort nadat hy die taxi in sy erf geparkeer het. Bronne sê die aanvallers het die huis se voordeur afgeskop en hom herhaaldelik geskiet.

Dié man is glo ook ’n lid van die Cata-taxivereniging.

Kapt. Frederick van Wyk sê die voorvalle word ondersoek en die moontlikheid dat dit met mekaar verband hou, word nie uitgesluit nie.

Enigiemand met inligting word gevra om die polisie se Stop Misdaad-nommer by 0860 010 111 te skakel.

Meer oor:  Paarl  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.