Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2de verdagte vas vir prokureur se dood

’n Tweede beskuldige is in verband met Eric Lyell, prokureur van Vereeniging, se moord in hegtenis geneem, en het Vrydag saam met die ander beskuldigde, Bongani Tau (30), in die hof verskyn.

Ao. Simon Mofokotsane, polisiewoordvoerder, het die inhegtenisneming van die tweede verdagte bevestig. Weens probleme om die ondersoekbeampte op te spoor, kon Mofokotsane egter nie sy naam of meer besonderhede verskaf nie.

Eric Lyell Foto: Verskaf

George, Lyell se seun, was Vrydag in die landdroshof in Vereeniging vir die beskuldigdes se verskyning.

Hy sê die tweede verdagte is Maandag in Sterkspruit in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. ’n Vuurwapen is glo in sy besit gekry.

Die saak is tot 8 Februarie uitgestel sodat die tweede verdagte ’n regsverteenwoordiger kan kry.

Volgens bronne het Lyell ’n goeie verhouding gehad met Tau, wat verskeie huistakies vir hom verrig en op sy erf gebly het. Lyell het dikwels na hom as sy seun verwys.

Tau is kort ná die moord in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Op die dag toe Lyell vermis geraak het, het familielede vir Tau gebel. Hy het gesê hy is op pad na Worcester. Hy is egter in Zastron in die Vrystaat deur die polisie aangekeer.

“In die hof kon Bongani (Tau) my nie in die oë kyk nie. Dit bly onwerklik.

“Ek ken nie die tweede verdagte nie en ek weet nie hoe hy met die moord verbind word nie. Ons vermoed dit is beplan,” sê George.

“Ek wil nie hê hierdie moet in ’n rassekwessie ontaard nie. Ek weet nie hoekom Bongani so iets sou doen nie,” sê hy.

Lyell se lyk is op 13 Januarie in die Vaalrivier gevind. Daar was verskeie wonde aan sy liggaam.

Rassie Erasmus, ’n vriend van hom, is glo die laaste mens wat hom lewend gesien het. Die twee het kantore in dieselfde gebou gehad en het saam koffie gedrink en gekuier.

Hulle het op die betrokke dag besluit om vleis te braai. Erasmus het vroeër aan Netwerk24 gesê Lyell sou nog by die River Walk-winkelsentrum in Drie Riviere aandoen om ’n paar goed te koop. Hy het nooit by die braai opgedaag nie.

Sy Volkswagen Jetta is ’n dag ná sy verdwyning op Barrageweg, tussen Vereeniging en Vanderbijlpark, opgespoor.

Meer oor:  Eric Lyell  |  Vereeniging  |  Moord  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.