Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 aangekeer ná moord op jong pa in New Brighton

Twee van die drie mans wat in verband met die moord op ’n jong pa van Gqeberha (Port Elizabeth) in hegtenis geneem is, word in ander sake van moord en roof gesoek.

Garrison Snayers (29), die pa van twee kinders van vier en sewe jaar oud, is verlede Woensdag in New Brighton doodgeskiet terwyl hy as ’n taxibestuurder vir ’n app-gegronde taxidiens gewerk het.

Sy lyk is die middag agter die stuur aangetref van die blou Suzuki-motor wat hy as taxi gebruik het.

Die polisie het onverpoos gewerk om leidrade op te volg waarna die drie mans in New Brighton en Sentraal aangekeer is.

“Ek sit met trane in my oë. Alles kom weer by my op en dit is nie lekker nie, maar ek is bly hulle is gevang,” het Garreth Snayers, Garrison se pa, gesê.

Snayers het sy seun op die moordtoneel uitgeken en vroeër aan Netwerk24 gesê te oordeel na die skietwonde is hy geskiet deur iemand wat agter hom in die motor gesit het.

Volgens ’n betroubare bron het die polisie inligting ontvang dat twee passasiers hom met ’n wapen gedreig het terwyl ’n derde man hom van buite die motor geïntimideer het. Garrison het hom glo teen die aanvallers verset, waarna hy geskiet en beroof is. Sy selfoon en beursie is gesteel.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê die deurbraak is danksy die taakspan wat deur die New Brighton-polisiekantoor, onder die leiding van dié polisiekantoor se bevelvoerder, kol. Vuyisiwe Tembani, begin is.

Sy het gesê die taakspan het Maandagoggend vroeg die eerste verdagte, ’n 25-jarige man, by ’n huis in New Brighton vasgetrek. Verdere inligting het tot die inhegtenisneming van nog ’n 25-jarige man in New Brighton gelei. Teen Dinsdagaand het die polisie ook ’n 28-jarige man in Sentraal aangekeer.

Ná verdere ondersoek is vasgestel dat twee van die mans in verband met ’n moordsaak en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in Motherwell, asook vir twee rooftogte in New Brighton gesoek word.

Snayers het die polisie vir hul toewyding bedank.

“Ons familie voel ’n bietjie meer gerus noudat die verdagtes aangekeer is. Dit sal nie ons seun terugbring nie, maar ons glo in die strafregstelsel en dat hulle lewenslange gevangenisstraf opgelê sal word vir wat aan my kind gedoen is.”

Hoewel hy nog sukkel om sy seun se dood te verwerk, het hy reeds Garrison se moordenaars vergewe.

“As ’n ouer moet ’n mens kan vergewe. Ek bid in die aand en wanneer jy die Here vra om jou te seën, kan jy nie haatdraend wees nie.

“Ek vergewe dus die mense wat my kind geskiet het. Mag die Here met hulle afreken.”

Meer oor:  New Brighton  |  Taxibestuurder  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.