Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 beseer, 17 vas ná geweld op Hermanus
Polisiebeamptes vroeër in Swartdamweg op Hermanus. Foto: Bianca Du Plessis/Hermanus Times

Twee polisiemanne en ’n betoger is op Hermanus beseer, terwyl 17 mense, onder wie ’n 35-jarige gemeenskapsaktivis van Zwelihle, op aanklagte van openbare geweld, aanhitsing tot geweld en die beskadiging van eiendom in hegtenis geneem is.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het Woensdagmiddag gesê die polisie is steeds op die toneel. Meer inhegtenisnemings kan volg.

Nadat boodskappe op sosiale media glo versprei is dat die polisie Gcobani Ndzongana, ’n bekende plaaslike gemeenskapsaktivis, in hegtenis gaan neem, het ’n skare van sowat 1 000 betogers Woensdagoggend die strate van Zwelihle ingevaar. Hulle het motorbande gebrand en die paaie met klippe versper.

Die polisie het ingegryp en rubberkoeëls en traangas gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Inwoners van Zwelihle het bevestig dat Ndzongana “toegesluit” is.

Marthinus J. Barnard van Mywhalecoast, ’n plaaslike toerismeblad op Facebook, het vroeër gesê ’n vergadering is met die gemeenskapslede gehou.

Mense word Woensdagmiddag in hegtenis geneem nadat onluste weer in Zwelihle, Hermanus, uitgebreek het. Foto: Christina Pitt/News24

Die situasie was teen Woensdagmiddag gespanne, maar in bedwang.

Kort voordat Ndzongana glo in hegtenis geneem is, het hy aan Netwerk24 gesê dat die aanklagte teen hom vals is. Hy beweer dat raadslede van die Overstrand-munisipaliteit hom teiken oor die leierskapsrol wat hy in die informele nedersetting speel.

Van Wyk het gesê die 35-jarige leier van die Zwelihle Revival-groep is aangekeer weens aanhitsing van geweld en die beskadiging van eiendom wat oor die naweek plaasgevind het.

“Vyf ander mense tussen die ouderdomme van 23 en 38 is weens openbare geweld in hegtenis geneem.”

Van Wyk het gesê twee polisielede is in die betogings beseer en een betoger is na die hospitaal geneem.

Die polisie was vroeër op die toneel nadat onluste weer in Zwelihle uitgebreek het. Foto: Bianca Du Plessis/Hermanus Times

Lede van die Zwelihle-gemeenskap het glo probeer om die Mount Pleasant Primary School te beskadig.

“Ons kan bevestig dat die polisie moes optree en lede van die onlustepolisie-eenheid het daarin geslaag om die skare uiteen te jaag. Die situasie word steeds fyn dopgehou en die polisie en ander wetstoepassers sal in die gebied bly om reg en orde te handhaaf,” het hy gesê.

Inwoners het Dinsdagaand ook ’n optog na die plaaslike polisiekantoor gehou en ’n memorandum oorhandig.

Die betogers beskuldig die plaaslike polisie van wanbestuur en dring daarop aan dat die minister van polisie hulle te woord staan.

Ndzongana het vroeër gesê dat die gemeenskap erg ontsteld is omdat hy geteiken word en dat die kennisgewing wat op Facebook en WhatsApp versprei word dinge net vererger het.

Volgens hierdie kennisgewing (gedateer 9 Julie) is sake van aanhitsing tot geweld en saakbeskadiging teen hom by die plaaslike polisiekantoor aanhangig gemaak.

Die kennisgewing bevat ook die saaknommer en moedig mense met eerstehandse inligting of wat foto’s of opnames van die geweld het aan om dit aan die owerhede te oorhandig.

Hy het gesê hy was nie deel van die jongste protesaksie nie omdat hy weens ’n verkoue in die bed was.

Pogings om Ndzongana telefonies te bereik was onsuksesvol.

Meer oor:  Hermanus  |  Zwelihle  |  Polisie  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.