Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 in Richtersveld geskiet ná groep glo myn ‘aanval’

Die Noord-Kaapse polisie ondersoek ’n voorval verlede Vrydag waartydens veiligheidswagte glo op drie lede van die Sanddrift- en Kuboes-gemeenskap in die Richtersveld losgebrand het.

Die skietwond aan Paul Swartbooi se maag.

Brig. Mohale Ramatseba, ’n polisiewoordvoerder, sê daar is beslag gelê op drie vuurwapens. “Klagte van poging tot moord word ondersoek en geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie,” sê hy.

Paul Swartbooi, ’n lid van die Kuboes-gemeenskap, is in die voorval in sy maag getref. Volgens Swartbooi was hy en ander delwers in die nag in ’n bakkie onderweg na die Bloeddrift- en Baken-myn toe beamptes van die Kaapse sekerheidsmaatskappy Vetus Schola op hulle geskiet het.

Swartbooi sê twee van die ander delwers, Jansen Chris­tiaans en iemand wat net as Van Wyk bekend staan, is ook getref. Swartbooi is ná die voorval per helikopter na ’n provinsiale hospitaal in Kimberley geneem vir behandeling.

Die myne waarheen die delwers op pad was, behoort aan die Lower Orange River Diamonds (LOR)-mynmaatskappy.

Chris Kimber, uitvoerende hoof van LOR, sê die skietery was nie ’n geïsoleerde voorval nie. Volgens hom het die mynmaatskappy in die afgelope 14 maande onder 30 aanvalle deurgeloop waartydens skade van meer R150 miljoen aangerig is. Kimber sê dit het die maatskappy genoop om sy begroting vir die beveiliging van die myne van R850 000 na meer as R4 miljoen te vergroot. Volgens hom is aanvalle op myne ’n krisis wat die hele bedryf bedreig.

Kimber sê die aand voor Swartbooi geskiet is, het ’n groep van 90 mense, waarvan sommige gewapen was, na bewering die Bloeddrift-myn betree. Veiligheidswagte en werkers is glo gyselaar geneem en swaar masjinerie is verniel. Die gyselaars is deur beamptes van Vetus Schola bevry.

Die volgende aand het agt voertuie die myn glo probeer betree. Motorbande is gebrand en toe die aanval afgeweer is, het die groep na die Baken-myn beweeg. Hulle het glo op ’n enkele sekerheidsvoertuig afgekom en dit aangeval. Die wag het versterkings ingeroep en toe nog veiligheidswagte opdaag, het ’n skietery glo uitbreek. Dis in dié voorval dat Swartbooi gewond is.

Kimber sê Vetus Schola-wagte het uit selfverdediging opgetree. Die gebeure is vasgelê deur die kameras waarmee die veiligheidsvoertuie toegerus is. Kimber sê die beeldmateriaal, sowel as GPS-inligting, is aan die polisie oorhandig.

Die polisie, mynbase, verteenwoordigers van Vetus Schola en gemeenskapsleiers het Maandag vergader om geskille by te lê.

Paul Swartbooi, ’n gemeenskapsleier (nie verwant aan Swartbooi nie), sê hy veroordeel die sinlose geweld.

“Die Namas en die mense van Namaland het ’n reg om te deel in die rykdom van ons land. Dis die regering se verantwoordelikheid om ons mense te assisteer om die nodige wettige dokumente te bekom om mynbou toe te pas.”

Die gewonde Swartbooi sê wanneer sy skietwond herstel het, gaan hy “maar weer by die huis sit. Amper 80% van die inwoners van Kuboes is werkloos. Ons sukkel. Daar is nie werk nie, daar is níks.”

Meer oor:  Veiligheidswagte  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.