Drie mense is in die Suid-Kaap in hegtenis geneem nadat drank en dwelms by hulle gevind is.
Polisielede van Laingsburg het Maandag omstreeks 22:00 voertuie in Voortrekkerstraat voorgekeer en deursoek toe ’n Mercedes-Benz-minibus voorgekeer is, sê sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder.
Die polisie het tik ter waarde van R55 000, asook 300 mandraxtablette, in die besit van ’n passasier van die bus gevind, luidens ’n verklaring.
Die 30-jarige passasier, van Britstown, is in hegtenis geneem.
Later by dieselfde punt is ’n afleweringsvoertuig deursoek toe die polisie op 61 bottels drank afgekom het. Dit was in die voertuig se kajuit en deurpanele versteek. Die vragmotorbestuur is in hegtenis geneem vir die oortreding van die inperkingsregulasies.
Maandag het die polisie en weermag in Conville, George, ’n vermoedelike afsetpunt vir dwelms besoek.
Volgens Spies het iemand daar toe ’n rugsak op die huis se dak gegooi. Die huis is deursoek en die polisie het op 100 mandraxtablette afgekom. ’n Man (22) is in hegtenis geneem.
Almal wat in hegtenis geneem is, sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is.