Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 kapings in ’n week in Noordwes: vermy dit só

Die polisie in Noordwes maan motoriste in veral die Rustenburg-omgewing om op die uitkyk te wees vir kapers ná verskeie kapingsvoorvalle die afgelope week daar en elders in die provinsie.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê in ’n mediaverklaring mense moet uiters versigtig wees as ander motoriste hulle wys om langs die pad stil te hou omdat dié mense moontlik kapers kan wees.

’n Man is verlede Maandag in Thlabane (naby Rustenburg) van sy blou Volkswagen Polo beroof toe hy in die straat stilgehou het om iemand op te laai.

Volgens Myburgh het hy uit sy voertuig geklim, maar die kapers het ’n vuurwapen op hom gerig en hom beveel om terug te klim in die Polo. Hy het egter ontsnap en weggehardloop, waarna die twee kapers met die voertuig weggery het.

Twee dae later, op Woensdag 18 November, het kapers ’n man wat op die N4-snelweg naby Swartruggens gery het, verbygesteek en ’n vuurwapen op hom gerig om hom te dwing om stil te hou. Twee van die kapers het toe saam met hom in sy bakkie geklim en gery na ’n nabygeleë kragstasie, waar hulle twee kartonhouers met selfone by die slagoffer gesteel het.

“Hulle het hom toe in sy Nissanbakkie toegesluit voordat hulle gevlug het,” sê Myburgh. “Die man het die agterste ruit van sy bakkie gebreek om uit te kom en die polisie van sy selfoon af gebel.”

Die laaste voorval was Sondag, toe ’n man en sy vriendin in Jouberton naby Klerksdorp aangeval is. “Hulle het vroeër vier rylopers by Bothaville (in die Vrystaat) opgelaai,” sê Myburgh. “Toe hulle net ná middernag in Jouberton ry, het die vier rylopers messe uitgehaal en gedreig om die man daarmee te steek. Die kapers het hom en sy vriendin vasgebind en kontant en ’n selfoon by hulle gesteel. Hulle het daarna met die man se Toyota Verso weggery.”

Myburgh maan mense om liefs glad nie rylopers op te laai of langs die pad stil te hou tensy dit ’n noodgeval is nie. “Mense wat stilgehou het wanneer die natuur roep, is al aangeval.”

Die polisie gee ook die volgende wenke

• Beplan jou roete en laat iemand weet watter roete jy ry, asook wanneer jy verwag om jou bestemming te bereik. Moenie altyd dieselfde roete ry nie, wissel af.

• Kyk altyd in jou truspieël om seker te maak jy word nie agtervolg nie.

• Vermy om met jou vensters oop te ry, hou die deure gesluit en bêre waardevolle besittings buite sig.

• Vermy afleidings soos ’n selfoon wanneer jy bestuur.

• As jy vermoed jy word agtervolg, ry na jou naaste polisiekantoor of ’n besige openbare plek.

• Verminder veral saans spoed wanneer jy ’n rooi verkeerslig nader sodat dit na groen kan oorslaan wanneer jy by die lig is.

• Parkeer waar moontlik in ’n sentrale, goed verligte plek, verkieslik waar motorwagte werk.

• Los ’n halwe voertuigspasie tussen jouself en die voertuig voor jou wanneer jy agter een stilhou. So het jy genoeg ruimte om in ’n noodgeval te kan ontsnap.

• Vermy om deur onbekende gebiede te ry, asook laataand of vroegoggend wanneer die paaie stil en dit donker is. Probeer sover moontlik om nie alleen te ry nie.

• Kapers kan ’n klein ongeluk veroorsaak soos om van agter in jou vas te ry. As jy nie gemaklik voel met die mens wat in die ongeluk betrokke is nie, wys vir die persoon om jou te volg na die naaste polisiestasie of ’n besige openbare gebied.


Meer oor:  Noordwes  |  Kapings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.