Die polisie in Port Elizabeth ondersoek drie moordsake nadat die lyke van drie slagoffers die naweek op verskillende plekke in die stad gevind is.
Kol. Pricilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê in die jongste geval is die lyk van ’n man Sondagoggend douvoordag op die hoek van Cape- en- Rinkstrate gevind.
Volgens Naidu is die slagoffer Saterdagaand omstreeks 23:30 gesien waar hy oor die pad gehardloop het en na bewering ’n voetganger van sy selfoon beroof het.
Die rower is glo deur onbekende mense agtervolg en toe hulle hom betrap, is hy erg geslaan.
“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort,” sê Naidu.
In ’n ander voorval is die lyk van ’n 45-jarige man Vrydagoggend met ’n skietwond in die kop in Hickory-straat in Bethelsdorp gevind.
Die oorledene is geïdentifiseer as Daniel Rousouw van Hoffmanstraat in Arcadia.
Naidu sê in die derde geval is die lyk van ’n onbekende man omstreeks 21:45 Vrydagaand in Militêre-straat in sentraal- Port Elizabeth gevind.
Naidu sê die slagoffer is erg aangerand en Humewood en die polisie van Humewood ondersoek die saak.
Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moordsake nie.
Enigiemand wat kan help met die identifisering van die oorledenes of die oortreders, word versoek om die polisie se stopmisdaadnommer by 08600 10111 te kontak of hul naaste polisiekantoor te bel.