Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 mense in 2 voorvalle in PE doodgeskiet

Drie mense is Woensdagaand in twee verskillende voorvalle in Port Elizabeth doodgeskiet.

Die polisie het die twee voorvalle as sluipmoordagtige moorde beskryf omdat geen waardevolle besittings in albei gevalle vermis word nie en die skieters oënskynlik bloot op die toneel was om die moord te pleeg.

Volgens die polisie hou die voorvalle in New Brighton en Motherwell ook nie met mekaar verband nie.

In die eerste voorval is Vuyolethu Xana (39) omstreeks 19:20 in Makwelastraat in New Brighton doodgeskiet.

Volgens kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het Xana enkele minute voor sy dood sy huis in dieselfde straat verlaat, waarna ’n onbekende aantal mense op hom losgebrand het.

Die tweede voorval is minder as ’n halfuur later in Motherwell aangemeld.

Beetge sê die polisie het omstreeks 19:50 reageer op ’n skietery wat in Magqabistraat gehoor is.

Terwyl die gebied deursoek is het die polisie die lyke van ’n man en vrou langs ’n bed in ’n woonstel aangetref. Daar word vermoed dat albei op die bed geskiet is, voordat hulle op die grond probeer skuil het.

Die man is volgens Beetge verskeie kere in die kop geskiet, terwyl die vrou ook skietwonde aan haar onderlyf gehad het.

Die polisie het die man as die 31-jarige Sizwe Sithole geïdentifiseer, maar die vrou was teen Donderdagoggend nog onbekend.

Volgens Beetge het Sithole by die adres van die moord gewoon en was die vrou vermoedelik sy vriendin.

In albei gevalle is die motief vir die moorde nog onbekend en die polisie wou ook nie Donderdag daaroor bespiegel nie.

Die moorde is deur genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied, veroordeel.

Rabie sê hoewel die polisie onverpoosd werk om die sake op te los, moet die gemeenskappe die polisie help deur inligting deur te gee oor diegene wat vir die moorde verantwoordelik was.

Enigeen met inligting kan lt.kol. Willie Mayi van die Oos-Kaapse georganiseerde misdaadondersoekspan by 082 697 5914 bel.

Meer oor:  New Brighton  |  Motherwell  |  Moord  |  Sluipmoord  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.