Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: 3 mense vervaardig glo steroïede in hul huis
Honderde botteltjies vermoedelik steroïede is in een van die huis se kamers ontdek. Dié kamer het vol leë botteltjies gestaan wat nog verpak moes word. Foto: Isabel Venter

’n Pretoriase paartjie en hul werknemer het vermoedelik steroïede – wat hulle self vervaardig – aan hul beeste toegedien.

Volgens die polisie in Gauteng word vermoed dat hulle ook steroïede aan hul waghond gegee het.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisie kommissaris, het Donderdag die huis besoek en die beeste en honde as “buitengewoon groot beskryf”.

Sitole sê die polisie het ’n wenk ontvang dat ’n onwettige steroïede-fabriek op die kleinhoewe bedryf word.

Lede van die media is Donderdag genooi om die kleinhoewe te besoek. Die huis is geleë op een van die kleinhoewes in die Boordfontein-gebied noord van Pretoria, naby Hammanskraal.

Donderdag was daar nog tekens van die paartjie se daaglikse bedrywighede tussen al die botteltjies vermoedelik steroïdes en pille wat die huis vol staan.

Polisie in Pretoria het Donderdag afgekom op ’n vermeende steroïede-fabriek wat vanuit ’n stoorkamer op ’n kleinhoewe naby Boordfontein noord van Pretoria bedryf is. Foto: Isabel Venter

Die 52-jarige man is volgens die polisie ’n geregistreerde apteker en bly saam met die 50-jarige vrou. Hul 38-jarige werker is ook in hegtenis geneem omdat hy glo gehelp het om die middels te maak.

Die drie bedryf die fabriek glo sedert 2014.

In ’n stoorkamer agter ’n motorhuis, wat vol voëlhokke staan, was daar masjinerie wat in die vervaardigingsproses gebruik is, sê die polisie.

Chemikalieë is vermeng sodat dit ’n poeier vorm, wat dan in pilvorm gedruk is. Ander chemikalieë is vermeng, wat dan in die huis in botteltjies verpak is. ’n Tweede stoorkamer op die kleinhoewe is ook ingerig om chemikalieë te vermeng.

In die kombuis was die mikrogolfoond nog vol medisynebotteltjies wat nog gesteriliseer moes word.

Genl Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Donderdag ’n vermeende steroïede-fabriek op ’n kleinhoewe in die Boordfontein-gebied noord van Pretoria besoek. Foto: Isabel Venter

’n Kamer langs die hoofslaapkamer van die huis het gedien as ’n verpakkingskamer, terwyl massas chemikalieë en poeiers in ’n kamer laer af in die gang gestaan het.

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, sê daar is beslag gelê op dié chemikalieë sodat verdere laboratoriumtoetse daarop gedoen kan word.

“Buiten dat steroïede onwettig is, weet ons nie watter gesondheidsrisiko dit inhou nie. Dit is in die stadium onduidelik watter chemikalieë gebruik is, want die meeste van die bottels is ongemerk,” sê Naidoo.

Sitole sê daar is vasgestel dat die middels aan een spesifieke persoon verskaf word. Dié persoon sal ook ondersoek word.

“Dit sal deel van die polisieondersoek wees om vas te stel of die paartjie belasting betaal het op die verkope van die middels,” sê Sitole.

In een van die huis se kamers was botteltjies in die proses om verpak te word met ’n vloeistof wat die polisie sê moontlik onwettige steroïede is. Foto: Isabel Venter

Hy sê die polisie kom toenemend agter dat misdadigers landelike gebiede uitbuit vir hul misdadige bedrywighede.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn. Hul identiteit kan tot dan nie bekend gemaak word nie.

Die polisie het die plaaslike dierebeskermingsvereniging gevra om ondersoek in te stel na die beeste en hond wat “buitengewoon groot is”.

Die media is nie toegelaat om dié diere te sien nie.

Dié huis, op ’n kleinhoewe in die Boordfontein-gebied noord van Pretoria is glo gebruik om onwettige steroïede te vervaardig. Masjiene wat pille vervaardig is gevind in ’n stoorkamer agter die motorhuis.Foto: Isabel Venter
Meer oor:  Dwelms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.