Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 met ‘demoniese oë’ val egpaar, dogter in Vredenburg aan

“Hulle het demoniese oë gehad. Dit is asof die duiwel voor ons kom staan het. Hulle kom om jou te martel en om jou dood te maak.”

En hulle het al die toerusting gehad om dit te doen, sê Geraldine Prinsloo (36) van Vredenburg.

Geraldine, Steven en Estelle Prinsloo nadat hulle deur drie gewapende mans aangeval is. Foto: Verskaf

Sy en haar ouers, Steven (63) en Estella (61), is Woensdagaand by hul huis in Vredenburg in die Wes-Kaap aangerand deur drie gewapende mans wat hulle as klante voorgedoen het. Die gesin verkoop hout by hul huis.

“In hul oë was dit net haat en moord. Hulle het gesê hulle het gekom om ons dood te maak.”

Sy sê wel dit het nie gelyk of hulle daarin belang stel om haar seer te maak nie. “Hul fokus was op die oumense.”

Prinsloo se dapper daad om weg te hardloop toe sy die kans kry, het waarskynlik hul lewe gered.

Die drie aanvallers het Steven teen sy slaap en agter sy kop met ’n wapen geslaan. Vir Estella het hulle rondgegooi en herhaaldelik teen die bors geslaan.

“Ons hele huis was vol bloed, dit was teen die mure, orals,” sê Prinsloo.

“Dit was so 18:45 en ek het buite op die stoep gesit en wag indien iemand inkom vir hout. ’n Silwer Corsa-bakkie met ’n wit kap het agteruit by die erf ingery. Ek het dadelik die gevoel gekry iets is fout.

Ons hele huis was vol bloed, dit was teen die mure, orals.

“Ek het by die huis ingehardloop en my pepersproei gaan haal. Ek het nie ’n wapen of iets gehad nie,” sê Prinsloo.

“Een van hulle het gestap tot by die stoor waar die hout is en gesê hy wil ’n sak koop. Hy het vir my ’n R200-noot gegee, maar hy wou nie die sak vat nie. Ek het ingegaan na binne om kleingeld te kry. My ouers was besig om aandete te maak.

“My ma het toe uitgegaan buitentoe, en dit is toe dat sy herhaaldelik teen die bors geslaan word met die wapen. Ek het gille gehoor en uitgehardloop en die een man met die pepersproei gespuit, maar dit het glad nie gehelp nie. Dit het niks aan hom gedoen nie.”

Die mans het Prinsloo en Estelle van Steven geskei deur hulle by die huis in te forseer, terwyl Steven buite aangerand word.

Die mans wou by die vroue in die huis weet waar die kluis is. “Hoe meer ons gesê het daar is nie ’n kluis nie en gesmeek het vir ons lewe, hoe kwater het die aanvallers geword. Ons het gesê ons sal hulle die boks kleingeld gee, dis al wat ons het.

“Hulle het gedreig dat hulle ons gaan doodskiet. Ek dink nie hulle het besef hoe seer hulle die oumensies maak nie.”

In ’n stadium kon sy haar selfoon bykom en het hulp probeer kry, maar een van die aanvallers het met haar begin stoei. Die volgende oomblik was haar pa by en bo-op die aanvaller.

“Dit was ’n gestoeiery en my pa en die aanvaller se vingers was byna gelyk op die sneller. My pa wou dit trek sodat daar ’n skoot kan afgaan en iemand kan kom help.

Ek het gesê ons word aangeval en hulle moet die polisie bel.

“Maar ons dink hulle was bang vir die geraas of dit was nie gelaai nie, so die aanvaller het probeer keer. Ons weet wel dit was regte wapens.”

Met die gestoeiery kon Prinsloo loskom.

“In daardie oomblik is dit lewe en dood. Ek wou nie my ouers agterlaat nie, maar ek moes iets doen om hulp te kry. Ek het die agterdeur oopgesluit en net gehardloop. Ek weet nie hoe nie, maar ek het bo-oor ’n muur van 1,8 m gespring na die bure toe.

“Ek het gesê ons word aangeval en hulle moet die polisie bel. Intussen het die rowers met die kleingeld gevlug. My ma en pa het gedink hulle het my ontvoer, maar die buurvrou het toe oor die telefoon vir my ma gesê ek is darem nie weg nie.”

Buite die huis het die gesin ’n sak met tou en lap in drie afsonderlike pakkies ontdek. “Hulle het vir my ma gesê hulle beplan om ons vas te maak en dood te maak,” sê Prinsloo.

Sy en die buurvrou het haar ouers na die hospitaal gehaas, waar hulle steke gekry het.

Sy sê die voorval was erg traumaties vir haar ouers, omdat daar nog nooit so iets in die gebied gebeur het nie. “Met my gaan dit oukei, maar my ouers sukkel baie om dit te verwerk. Ek wil graag reël dat hulle ’n berader gaan sien. In 60 jaar het hulle nie gedink so iets gaan met hulle gebeur nie.

“Vandat die inperking begin het, kan ons nie meer vrylik in ons strate rondloop nie. ’n Mens voel klaar vasgevang, maar nou is dit baie erger. Dis net werk toe en huis toe, en jy sluit jouself agter deure en hekke toe, want jy’s bang.

“Ek sê vir die Here dankie vir ’n tweede kans. Die boodskap wat ek vir mense wil gee, is dat ons nie meer veilig is nie. Al glo jy in die Here, maak maar altyd seker dat jy iets het om jouself mee te beskerm.”

Meer oor:  Geraldine Prinsloo  |  Vredenburg  |  Demoniese Oë  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.