Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 op veiling met vermoedelik gesteelde beeste betrap

Drie mans wat vermoedelik Vrydagnag beeste op ’n plaas naby Ottosdal in Noordwes gesteel het, is die volgende dag op ’n veiling in Krugersdorp aan die Wes-Rand vasgetrek.

Dié suksesvolle optrede was danksy samewerking tussen die veediefstal-ondersoeksentrum (Stic) en die polisie se veediefstaleenheid, sê Jaco Taute, voorsitter van Stic in die Fochville-omgewing in Gauteng. Dis teenaan die grens met Noordwes. Taute is ook voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie in Gauteng.

Die verdagte bakkie met ’n vorige geleentheid, voordat dit Saterdagoggend vroeg weer met ’n kringtelevisiekamera in Noordwes afgeneem is. Foto: Verskaf

Taute het Maandag vertel een van die kringtelevisiekameras wat op strategiese plekke by paaie in Noordwes opgerig is, het die bakkie met ’n sleepwa waarop die agt beeste vervoer is, vroeg Saterdagoggend afgeneem.

“Dieselfde voertuig met ’n Gautengse nommerplaat is ook vantevore afgeneem. Toe die kameras die voertuig wéér Saterdag afneem terwyl dit in die rigting van Krugersdorp ry, het ons dadelik onraad vermoed. ’n Boodskap met die foto’s is na boere in Noordwes wat aan die kringtelevisiestelsel gekoppel is, asook beheerkamers, deurgestuur. Hulle het dit weer vir my aangestuur.”

Volgens Taute het onder meer landbou-unies die sowat 800 kameras op verskillende plekke in Noordwes opgerig om misdade soos veediefstal, plaasaanvalle en voertuigdiefstal te bekamp.

Taute het Nico Jacobs, voorsitter van Stic Magalies, Saterdag gebel kort nadat die kringtelevisiemateriaal deurgekom het, om te gaan kyk of die bakkie met die sleepwa en beeste op die veiling in Krugersdorp is. “Dit was daar. Ons het dadelik foto’s van die beeste op WhatsApp-groepe in Noordwes versprei.”

Lida en Hannes Pretorius van die plaas Bospoort naby Ottosdal het toe nog nie geweet agt van hul beeste is gesteel nie. “Ons is nie op die noodgroepe nie, maar ons buurman het ons gebel en gevra of ons beeste vermis,” het Lida Maandag gesê.

Jaco Taute (links) en Nico Jacobs, albei van Stic, die afgelope naweek by van Hannes Pretorius se vermoedelik gesteelde beeste by Krugersdorp se veilingskrale. Foto: Verskaf
Hannes Pretorius toe hy sy beeste Sondag gaan uitken het. Foto: Verskaf

Dis tóé dat die Pretoriusse agterkom agt van hul beeste met ’n gesamentlike waarde van sowat R80 000 is weg. Intussen het Taute en Jacobs die polisie in kennis gestel van die moontlike veediefstal. “Toe die polisie by die veiling in Krugersdorp aankom en die drie mans nie ’n bevredigende verduideliking kon gee waarvandaan die beeste kom nie, is hulle in hegtenis geneem,” sê Taute.

Hannes het sy beeste die volgende dag gaan uitken. Volgens Lida is die beeste nou in Lichtenburg om DNS-toetse te ondergaan sodat daar met sekerheid bevestig kan word dis wel hul gesteelde beeste. “Ons is dankbaar vir almal betrokke se hulp.”

Taute het benadruk dat boere hul vee moet merk sodat dit as hul eiendom geïdentifiseer kan word wanneer daar diefstalle is. “Dis danksy Stic en ons goeie samewerking met die polisie dat veediefstalle betreklik min in Gauteng voorkom en (die afgelope boekjaar) afgeneem het in Noordwes. Ons vra daarom dat soveel moontlik Stic-takke gestig word.”

Volgens die polisie se statistieke vir die 2019-’20-boekjaar, is Gauteng die provinsie waar daar die minste voorvalle van veediefstal landwyd was. In Noordwes het dit met 16% afgeneem sedert die vorige boekjaar.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig drie verdagtes tussen die ouderdom van 32 en 44 is Saterdag weens veediefstal in hegtenis geneem toe hulle die diere glo op ’n veiling in Krugersdorp wou verkoop. Hulle verskyn Dinsdag in die landdroshof in Ottosdal.

Meer oor:  Ottosdal  |  Noordwes  |  Wes-Rand  |  Beeste  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.