Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 ‘polisiemanne’ beroof Nigeriese burger in Brandwag

Drie gewapende rowers het hulle Donderdagaand as polisiebeamptes voorgedoen om toegang tot ’n man se huis in Brandwag, Bloemfontein, te kry.

Die rowers het omstreeks 20:00 by die huis van Jerremia Ozobu (29), ’n Nigeriese burger, in Pierre Ollemanstraat, Brandwag, opgedaag. Hulle het aan sy deur geklop en voorgegee dat hulle polisiebeamptes is.

Een van die rowers klim teen die toonbank op toe drie mans ’n winkel in Parkwes, Bloemfontein, beroof het. Foto: Skermgreep

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die mans het hom beveel om op sy bed te sit, waarna hulle geld en sy motorsleutels geëis het. Hulle het hom met vuurwapens aangerand en sy kamer deursoek, en sy motorsleutel, selfone, juweliersware en ’n onbekende bedrag geld gebuit.

Hulle het daarna in Ozobu se VW Polo Vivo (registrasienommer HZ 42 BV GP) weggery.

Die polisie ondersoek klagte van huisroof en motordiefstal. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Drie mans het ook vroeër die dag die winkel van ’n Bangladesjiese burger in Parkwes, Bloemfontein, beroof.

Een van die rowers duik halflyf deur ’n opening om geld uit die kasregister te vat. Foto: Skermgreep

Die mans, van wie twee gewapen was, het om 17:50 by die Rio Cafe in Colignystraat opgedaag en Mothaleb Abdul (40), die winkeleienaar, en sy broer beroof.

Covane kon nie Vrydag sê of dit dieselfde rowers is nie.

Op beeldmateriaal van kringtelevisiekameras kan gesien word hoe een van die mans die onderkant van sy gesig met iets bedek.

Sy makker, wat ’n blou oortrektrui met ’n kappie dra, duik halflyf deur die gaping van die diefwering, wat die toonbank van die res van die winkel afsper, en haal geld uit die kasregister.

Daarna klim hy oor die diefwering en gaan voort om geld uit die kasregister te haal. Abdul en sy broer spring dadelik van hul sitplekke op en steek hul hande in die lug.

’n Derde rower pak verskeie ander items in ’n swart plastieksak voordat die mans uit die winkel vlug.

Covane sê die mans het ’n onbekende bedrag geld en ander goedere gebuit.

’n Klag van sakeroof word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem.

Meer oor:  Jerremia Ozobu  |  Brandwag  |  Misdaad  |  Nigeriese Burger  |  Polisiemanne  |  Gewapende Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.