Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 susters, Hollandse vriend op Paarlse gasteplaas beroof

’n Gesellige kuiery om ’n vleisbraaivuur het in ’n nagmerrie ontaard toe drie susters van die Weskus en ’n vriend van Holland op ’n gasteplaas naby die Paarl met hul eie skoenveters vasgebind, met wapens gedreig en beroof is.

Inge Schreuder (33), die oudste suster, wat in Franschhoek woon, sê hulle is Vrydag na die Amberg-gasteplaas naby die Dutoitskloofpas om net “ ’n bietjie af te skakel, want ons sien mekaar nie gereeld nie”.

Die drie susters by Amberg ure voordat die voorval gebeur het. Van voor is Minchen Swanepoel, Inge Schreuder en Lize Schreuder.

Vier mans “met klapmusse en aksente wat ons nie herken het nie” het hulle beroof.

“Hulle het alles gevat – ons selfone, juweliersware, geld, tot ons skoene en klere,” sê Schreuder.

Die groep het net ná 21:00 buite gesit en braai toe die mans opdaag.

“Ons het aanvanklik gedink hulle is veiligheidsbeamptes. Toe ons vra wie hulle is, het hulle ons oorval.”

Die mans het glo ’n rewolwer, meer as een mes en selfs ’n koevoet gehad.

Schreuder sê sy het haar selfoon nog onder haar sitvlak probeer wegsteek, maar “hulle het dit gesien en afgevat”.

“Hulle het letterlik my tekkies van my voete af gesteel,” sê sy.

Hulle was seker nog twee uur in die huis. Hulle wou aanmekaar net nog en nog goed hê.

Nadat hulle met hul veters vasgebind is, is twee mans saam met Schreuder na hul blyplek omdat “hulle meer wou hê”.

Die ander twee mans het by die res van die groep agtergebly, met een wat ’n rewolwer teen die jongste sussie se kop gehou en die ander wat met ’n mes langs die middelsuster gestaan het.

“Ons was seker so 40 minute binne,” sê Schreuder. “Hulle het deur die kamers gesoek en ons geld gevat, die duvets, letterlik alles waarop hulle hul hande kon lê.”

Terwyl Schreuder binne was, het haar jongste sussie buite ’n paniekaanval gekry.

“Een van die mans het haar gedreig en gesê as sy nie ophou huil nie, gaan hy haar skiet,” sê Schreuder.

Die twee mans buite het die ander susters en hul vriend toe ingebring en almal met lakens vasgebind.

“Hulle was seker nog twee uur in die huis. Hulle wou aanmekaar net nog en nog goed hê,” sê Schreuder.

Sy sê die rowers het “baie rustig en in beheer” voorgekom.

“Ek dink nie dit is die eerste keer dat hulle só iets doen nie,” sê sy.

Toe die mans klaar was, het hulle die groep in die badkamer toegesluit.

amberg-gasteplaas

“Ná ’n rukkie het ek die glas met tandeborsels gebreek en die stukkende glas gebruik om ons los te sny. Ons vriend is toe deur die venster en het die deur vir ons oopgemaak,” sê Schreuder.

Die eienaar van die plaas is in kennis gestel en die polisie is gebel.

Schreuder “dank die Here” dat hulle veilig is.

“Ek was nie bekommerd oor wat hulle vat nie, solank hulle net nie ons lewe vat nie,” sê sy.

Minchen Swanepoel (30), die middelsuster, van Langebaan, sê sy het gewoonlik oor sulke dinge in die nuus gelees.

“As dit met jou gebeur, is dit 'n verskriklike skok,” sê sy. “Ek is net dankbaar dat ons almal lewe en dat ek nie my driejarige dogtertjie die naweek saamgeneem het nie.”

Lize Schreuder (29), die jongste sussie, wat ook in Franschhoek bly, sê Swanepoel het haar gekalmeer toe sy die aanval kry.

“Ek is steeds geskok. In daardie oomblik het ek seker honderd emosies ervaar,” sê sy. “Ek is dankbaar dat ek lewe, want dinge kon baie anders verloop het.”

Die polisie het bevestig dat “een man en drie vroue op die stoep van ’n gastehuis naby die Paarl beroof is toe vier onbekende mans opgedaag en hulle gedreig het”.

Ao. Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die mans het die groep van waardevolle artikels beroof en daarna gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die susters is nie seker hoe die mans by Amberg ingekom en uitgegaan het nie.

Dit is glo die vierde keer dat lede van die familie beroof word.

Een van die gesteelde artikels, ’n slimhorlosie, stuur glo ’n sein van Guguletu af.

Netwerk24 het Amberg om kommentaar genader, maar is meegedeel dat hulle eers Maandag kommentaar kan lewer.

Meer oor:  Paarl  |  Gasteplaas  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.