Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 vas ná polisieman erg aangerand is
Konst. Leon Mentz in die hospitaal. Foto: Verskaf
Konst. Leon Mentz in die hospitaal. Foto: Verskaf

Twee mans en ’n vrou is in hegtenis geneem nadat ’n polisiekonstabel in ’n vermoedelike “wraak-aanval” so ernstig aangerand is dat hy reeds twee operasies moes ondergaan.

Konst. Leon Mentz van die Sinoville-polisie in Pretoria, moes steke aan sy gesig en kop kry nadat hy onder meer met ’n glasbottel van agter geslaan en met ’n stukkende glas in die gesig gegooi is.

Volgens inligting ondersoek die polisie die moontlikheid dat ’n man, wat vroeër in hegtenis geneem is op ’n dwelmverwante klag, die drie verdagtes Saterdagaand aangehits het om “soos ’n pak wolwe” op Mentz toe te sak.

Die polisie in Sinoville het bevestig die konstabel was ’n paar weke gelede deel van ’n span wat ’n man in hegtenis geneem het. “Mentz het nie self die man in hegtenis geneem nie.”

Die verdagte was in die hof, maar is vrygelaat omdat daar gewag word vir ’n laboratoriumverslag oor dit wat in sy besit gevind is,” het die polisie gesê.

Saterdagaand het Mentz en sy broer by die kuierplek Die Kantoor gaan kuier.

“Hy het daar in die dwelmverdagte vasgeloop, maar volgens ooggetuies was daar geen probleme nie,” sê die polisie.

’n Rukkie later het ’n vriend van die man en sy meisie ingekom. Hulle het glo skoorgesoek en ná ’n gesprek met die dwelmverdagte is hy na die potspeltafel waar Mentz gespeel het.

Die man het glo gesê “f*k die polisie” en “die polisie kan niks aan my doen nie”, sy bo-arms gebult en dit gesoen.

Die Mentz-broers het hom toe glo gevra om te loop voordat die polisieman se broer badkamer toe is.

“Mentz het glo gesien hoe die fris man agter sy broer ingaan en besef iets is fout. Nog ’n vriend van die verdagte is agterna en Mentz het gaan ondersoek instel,” sê die polisie.

Twee mans het glo op Mentz toegesak toe hy die badkamer inkom.

“Die volgende oomblik het ’n vrou glo die konstabel van agter oor die kop met ’n bottel geslaan,” sê die polisie.

Die trio sal later die week in die hof verskyn.

Die broers het besef hulle moet wegkom en het uitgestorm na die parkeerterrein.

Op pad na die kar het hulle glas agter hulle hoor breek.

Mentz het ’n man met ’n gebreekte drinkglas in die hand ’n paar meter agter hulle gesien.

“Volgens ons voorlopige ondersoek het die man die stukkende glas na die konstabel gegooi. Hy is vol in die gesig getref,” sê die polisie.

’n Bloeiende Mentz het op sy knieë neergesak en is toe met die vuiste toegetakel tot sy broer en ander mense die aanvallers van die polisieman kon aftrek.

Mentz se broer het hom hospitaal toe gebring.

Die polisie het bevestig die man en sy meisie is Maandagaand in hegtenis geneem en aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Nog ’n man is Woensdag aangekeer.

“Die “fris” verdagte het voor sy inhegtenisneming ’n klag van aanranding by die polisiekantoor in Pretoria-Wes teen Mentz ingedien,” sê die polisie.

Die trio sal later die week in die hof verskyn.

Meer oor:  Konst. Leon Mentz  |  Pretoria  |  Polisieman  |  Misdaad  |  Inhegtenisnames  |  Aangerand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.