Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 vas wat lorrie met vrag drank kaap

Skote het Donderdag langs die N2 naby die Baywest-winkelsentrum aan die buitewyke van Port Elizabeth geklap toe die polisie op ’n gekaapte vragmotor met ’n vrag drank toegesak het.

Gedurende die oor-en-weer-skietery het die polisie een van die vermeende kapers in die hand gewond en drie mans vasgetrek.

Die drama het vroeër die oggend ontvou nadat polisielede van die blitspatrollie-eenheid inligting van ’n gekaapte vragmotor opgevolg het.

Polisielede op die N2 naby die Baywest-winkelsentrum aan die buitewyke van Port Elizabeth op die toneel waar ’n gekaapte vragmotor voorgekeer is. Foto: Verskaf

’n Jaagtog het ontstaan toe die vermeende kapers die polisie kort op hul hakke op die N2 opgemerk het, waarna die insittendes van die vragmotor hul buit by die ruite begin uitgegooi het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die vragmotor se insittendes het tydens die jaagtog verskeie skote op die polisie geskiet, voor hulle van die pad afgeswenk en in die lang gras langs die snelweg tot stilstand gekom het.

Die polisie het waarskuwingskote afgevuur toe die insittendes van die vragmotor in verskeie rigtings weggehardloop het.

“Blitspatrollie-lede het agter die verdagtes aangehardloop en twee vasgetrek. Die derde verdagte is deur die Kabegapark-misdaadvoorkomingseenheid oorkant die pad in hegtenis geneem.”

Die gekaapte vragmotor wat ’n vrag drank vervoer het, staan langs die N2 waar die vermeende kapers die vragmotor verlaat het. Foto: Cara-Lee Dorfling

’n Toestel wat sein versper, ’n speelgoedvuurwapen, ’n motorbattery en verskeie kledingstukke wat verspreid langs die pad naby die toneel gelê het, is deur die polisie op beslag gelê.

Die gekaapte vragmotor het ongeveer R40 000 se drank as vrag vervoer.

Volgens die polisie is die vragmotor die oggend in Ou Grahamstad-weg in die stad gekaap.

Die vragmotorbestuurder en twee insittendes het in die geparkeerde vragmotor gewag om ’n aflewering te doen.

Twee van die drie vermeende kapers lê geboei in die gras nadat hulle in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Vyf gewapende mans het die vragmotor genader en die insittendes gedwing om by ’n Quantum-minibus daar naby in te klim.

Die minibus en gekaapte vragmotor het saam in die rigting van die Linton Grange-woonbuurt gery voordat hul paaie geskei het.

Die vragmotor het op die N2 gebly, terwyl die minibus die vragmotorbestuurder en sy twee passasiers in Booysenspark afgelaai het.

Janse van Rensburg sê die drie verdagtes is tussen die ouderdom van 28 en 36 jaar oud. Hulle word op aanklagte van voertuigkaping en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom aangehou.

Hulle sal binnekort in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Die vermeende kapers het dié toestel, wat volgens die polisie gebruik word om sein te versper, by die vragmotor se venster uitgegooi terwyl hulle vir die polisie weggejaag het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Vragmotor  |  Misdaad  |  Kaping  |  Drank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.