Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
30 vroue aangekeer vir beweerde Sassa-bedrog

Altesaam 30 vroue van Botshabelo buite Bloemfontein verskyn Woensdag hier in die landdroshof op ’n aanklag van bedrog nadat hulle na bewering die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) bedrieg het.

Een van die vroue stap saam met ’n polisiebeampte nadat sy in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Die vroue is van Maandag omstreeks 16:30 tot Dinsdag in die vroeë oggendure tydens die polisie se operasie Projek Bestry by hul onderskeie huise in Botshabelo in hegtenis geneem.

Die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad het die projek in Julie verlede jaar begin. Dit bestaan uit die misdaadintelligensie-eenheid, speurders, die eenheid vir openbare orde en die plaaslike misdaadrekordsentrum.

Die operasie is begin nadat die polisie inligting ontvang het dat mense wat nie toelaes verdien nie, op ’n bedrieglike manier om Sassa-toelaes aansoek doen.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê een van die vroue wat in hegtenis geneem is, is glo die 41-jarige baasbrein agter die beweerde bedrogspul. Die ander vroue is haar kliënte.

Die vrou het glo niksvermoedende vroue genader en valse verwysingsbriewe vir dokters aan hulle uitgereik wat hulle laat kwalifiseer om vir Sassa-toelaes aansoek te doen.

Sy het hulle minstens R200 vir dié “diens” gevra.

Mbambo sê tydens haar inhegtenisneming het die polisie in haar huis op vervalste dokumente en stempels beslag gelê.

Die vrou het haar voorgedoen as ’n doktersassistent wat toegelaat is om dié pligte uit te voer terwyl die dokter met verlof was.

“Die operasie het in Julie 2018 begin toe die polisie bewus geword het van haar bedrogspul. Die ondersoek sal wys wanneer sy daarmee begin het. Dit is nog onbekend hoeveel geld die vrou uit die bedrogspul gemaak het,” sê Mbambo.

Volgens haar is sommige van die vroue wat in hegtenis geneem is, se toelaes voorheen gekanselleer en kon hulle weens die beweerde bedrog heraansoek doen. Sommige vroue het pas aansoek gedoen, terwyl ander reeds hul toelaes ontvang het.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, Vrystaatse polisiehoof, sê dit is die eerste fase van die operasie en nog inhegtenisnemings sal volg.

“Geen vorm van bedrog en korrupsie teen die regering sal geduld word nie. Ons sal enigeen wat betrokke is sonder vrees of guns in hegtenis neem,” sê Sempe.

* Enigeen wat enige Sassa-dienste aangebied word vir geld, word aangeraai om Sassa se bedroglyn by 0800-60-1011 te skakel.

Van die vervalste stempels en dokumente wat die polisie by die vermeende baasbrein se huis gevind het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Bloemfontein  |  Bedrog  |  Sassa  |  Hofverskyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.