Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
331 mense net in Mei in Wes-Kaap vermoor

Meer as tien mense word daagliks in die Wes-Kaap vermoor. Net in Mei was daar sowat 331 moorde teenoor die 304 mense wat in Mei verlede jaar in die provinsie vermoor is, sê Alan Winde, nuwe premier van die Wes-Kaap.

Die syfers is deur ’n eenheid van forensiese dienste verbonde aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid verskaf en kom nie van die SAPD nie.

Uit dié statistiek blyk dat 171 van die 331 vermoordes in Mei geskiet is teenoor 150 verlede jaar in dieselfde tyd en 116 is doodgesteek (107 in 2018).

In die metropool is 271 moorde (246 in 2018) in dié tyd aangemeld en 60 in landelike (58 in 2018) gebiede.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Winde meen die polisie slaag weens ’n stelselfout nie met die bekamping van misdaad nie en daarom is moorde aan die toeneem.

“Die bende-eenheid wat met groot ophef in November gestig is, het ’n paar inhegtenisnemings opgelewer, maar dit het geen invloed op die moordsyfer gehad nie.”

Volgens Winde het die polisie in die Wes-Kaap nie genoeg hulpbronne nie. In die Wes-Kaap is daar een polisiebeampte vir elke 509 mense. In die metro-gebied is dit meer met een beampte vir elke 560 mense.

Die nasionale gemiddeld is een beampte vir elke 375 mense.

“Die polisie in die Wes-Kaap moet benewens die bestaande sake, elke dag tien nuwe moorde ondersoek.”

Behalwe meer voetpatrollies het die provinsie ook ekstra hulpbronne vir misdaadintelligensie nodig om misdaad behoorlik te bekamp.

“Ons doen wat ons kan om te help, soos om gemeenskapspolisiëringsforums te help en beamptes wat hofsake opvolg nadat mense in hegtenis geneem is. Die realiteit is dat ons nie die moordsyfer kan laat daal sonder ’n doeltreffende polisiediens nie.”

Winde sê hy praat met die nasionale polisieminister, Bheki Cele, om meer hulpbronne vir die provinsie te kry.

“Die opposisie sê ’n mens kan die probleem oplos deur die beskikbare hulpbronne te herverdeel. Om hulpbronne te skuif na waar dit die nodigste is, is ’n kosbare eerste stap, maar ons het dit al voorgestel. Ons moet ons koppe uit die sand trek en erken dat daar nie genoeg polisiebeamptes op die grond is nie,” het Winde gesê.

Volgens Winde het die provinsiale regering aangebied om ’n reservisprogram te finansier om sodoende meer beamptes beskikbaar te maak vir hul werk.

“Ons het ’n vergadering met Cele belê en ek hoop vir ons inwoners en ons provinsie se onthalwe dat hy opdaag,” sê Winde.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.