Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
31-jarige man vas ná skietery op Kaapstadse stasiedek

’n 31-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die skietvoorval Maandagmiddag by die taxi-staanplek op die Kaapstadse stasiedek waarin sewe mense, insluitend ’n vrou in ’n rolstoel, gewond is.

Onbekende verdagtes het glo op mense op die stasiedek losgebrand voordat hulle in verskillende rigtings gevlug het.

Polisielede naby die misdaadtoneel waar sewe mense Maandag op die Kaapstadse stasiedek raakgeskiet is. Foto: Ané van Zyl

’n Verkeersbeampte van die Kaapstad-metro het enkele oomblikke ná die skietery daarin geslaag om een van die vermeende skieters aan te keer.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê hulle was laatmiddag steeds besig om die gebied naby Old Marine-rylaan, Strand- en Buitenkantstraat vir leidrade te fynkam.

“Die verkeersbeampte het een verdagte, ’n 31-jarige man, aangekeer en op ’n vuurwapen beslag gelê. Sake van poging tot moord word tans ondersoek en die verdagte sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is.”

Rwexana sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die aanval met die taxibedryf verband hou.

Die trappe wat na die Kaapstadse stasiedek lei waar die taxi’s bedrywig is. Foto: Ané van Zyl

JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die verkeersbeampte geloof vir sy flink optrede. “Die verkeersbeampte was op patrollie ten tye van die voorval. Die man het ’n 9 mm-pistool gehad en die beampte het hom agternagesit.”

Smith sê die beampte het nie twee keer gedink om ’n gewapende man agterna te sit nie, sodat hy kon verseker dat niemand anders beseer word nie en die misdadiger gevang word. “Sy dapperheid het verseker dat daar geregtigheid sal wees vir diegene wat geskiet is.”

Smith sê die stasiedek en omliggende paaie was tydelik gesluit vir die polisie om hul ondersoek af te handel.

Deanna Bessick, woordvoerder van die Wes-Kaapse mediese nooddienste (EMS), sê hul spanne het omstreeks 12:00 gereageer op die skietvoorval waarby taxibestuurders glo betrokke was.

Die beseerdes, ses mans en ’n vrou, is in Old Marine-rylaan by die taxistaanplek gekry.

“Vier pasiënte is na nabygeleë hospitale vervoer. Die res van die pasiënte is deur ER24 vervoer. Die pasiënte het bors-, skouer- en kopbeserings opgedoen,” het Bessick gesê.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die sewe pasiënte het geringe tot ernstige beserings opgedoen. “Die pasiënte is vir hul beserings behandel en onmiddellik na nabygeleë hospitale geneem.”

Meer oor:  Skietery  |  Skietvoorval  |  Gewond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.