Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3rde verdagte vas vir moord op hotelier van Pofadder

’n Derde man is Donderdag in verband met die moord op Leon Brits (41), hotelier en deeltydse boer van Pofadder, aangekeer.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die derde verdagte, ’n 24-jarige man, is in Kathu in hegtenis geneem.

Hy sê uitstekende ondersoekwerk deur brig. Dick de Waal, Noord-Kaapse hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad, en sy span wat uit speurders van die polisie in Pofadder en Springbok bestaan, het tot die derde inhegtenisneming gelei.

“Die span volg alle leidrade deeglik op.”

Brits is op 7 Oktober by sy huis in Pofadder oorrompel nadat hy na bewering ’n oproep van ’n werker ontvang het wat gevra het dat hy sy bulterriër moet kom toemaak sodat die huis skoongemaak kon word.

Sy vrou, Suretha, het na hom gaan soek nadat hy ongewoon lank weggebly het en sy hom nie op die telefoon kon bereik nie.

Sy het op Brits se lyk in die onderdakswembad afgekom.

Leon en Suretha Brits

Hy is glo verskeie kere met ’n mes in sy bors gesteek en met die hond se ketting verwurg.

Dit blyk dat hy toe na die swembad gesleep en ingegooi is.

Twee mans, Jacques van Vuuren (34) en Enrich Williams (37), het Maandag reeds in die landdroshof in Pofadder verskyn.

Van Vuuren is in Kathu en Williams in Piketberg aangekeer.

Hulle verskyn weer Maandag in die landdroshof in Pofadder vir ’n borgtogaansoek.

Die derde verdagte sal ook Maandag in die hof verskyn.

Meer oor:  Leon Brits  |  Moord  |  Hof  |  Misdaad  |  Pofadder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.